RONDOM DIE SKRYWER . . .
Gedurende die laaste
helfte van die vorige eeu het ek baie bewus geraak van die afvalligheid en
oppervlakkigheid van ons mense in die Weste. Die misdaad, geweld, dwelmprobleme
en ander sosiale kwessies het my geweldig gepla en daarom het ek predikant
geword, om dan 'n goeie invloed in die wêreld te probeer wees.
Dit het toe geblyk 'n
byna onmoontlike taak te wees, en baie problematies.
In die laat
negentigerjare het ek 'n reeks preke in verskillende stadsale in Transvaal en
die Vrystaat gelewer waarin ek gesê het dat 'n nuwe kerkhervorming op hande is,
dat daar weer na die lewe en werk van Jesus en die rol van die kerk in die
samelewing gekyk sal moet word. Dit was toe dat ek die eerste keer gewys het op
die voëlverskrikkers wat die predikante en die kerk op die horison van ons lewe
geplant het. Voëlverskrikkers, ja, want ten spyte van hul werk onder ons mense,
en dalk te wyte daaraan, het ons ons land en kultuur verloor en is ons mense
nou oor die wêreld heen versprei in 'n moderne diaspora van Afrikaanses.
Daarna het ons al meer
gehoor van professore en teoloë in Suid-Afrika wat sekere kerklike
leerstellings bevraagteken het: dat die skepping nie in sewe dae geskied het nie,
dat die aarde en die heelal dalk ouer as ses duisend jaar is, dat Jona nie
werklik in die vis se maag was nie, dat Maria nie 'n maagd was en na die
geboorte van Jesus, een gebly het nie, dat daar vrae oor die opstanding gevra
is en dat die juistheid van die leerstelling oor die drie-eenheid opnuut weer
deur die teoloë bespreek word, ens. Sommige van daardie geleerdes het bekend
geraak as die Nuwe Hervormers.
BEELD, Vrydag, 7 Maart 2003, bl.
13.
Nuwe Hervormers ‘ nie eintlik Christene nie’
GELOOFSWEë BY SKEIDING?
Neels Jackson
Die aanhangers van die Nuwe
Hervorming kan hulself eintlik nie Christene noem nie. Hulle is eerder Jesuïte of Jesus-volgelinge,
het prof. Amie van Wyk van die Gereformeerde Kerke gesê.
Van Wyk het in Pretoria op die
convent van gereformeerde kerke gesê die Nuwe Hervormers praat van Jesus, maar
nie van Christus nie. Hulle glo Jesus se
saak het voortgeleef ná sy kruisiging, maar nie dat Hy regtig uit die dood
opgestaan het nie. As die opstanding
wegval, val die bodem uit die evangelie, het Van Wyk gesê.
Prof. Sakkie Spangenberg, ‘n Nuwe
Hervormer, het by dieselfde geleentheid die leer oor die Drie-eenheid van God
bevraagteken.
Spangenberg het gesê die Jode glo
nie in ‘n Drie-eenheid nie. Dit is die
godsdiens wat Jesus beofen het. Jesus
het sy volgelinge geleer om tot die Vader te bid en nooit gesê hulle moet Hom
aanbid nie. In die Onse Vader-gebed is
daar ook geen verwysing na die Heilige Gees nie.
Die leer van die Drie-eenheid is in
interpretasie (let op die
woord “interpretasie” hier) wat later gekom het.
‘n Mens moet vra of dit nog sinvol is.
Niemand kan die Drie-eenheid logies verduidelik nie, het Spangenberg
gesê.
Prof. Piet Strauss, assessor van die
NG Kerk, het gesê ‘n mens hoef nie die Drie-eenheid logies te verstaan
nie. As ‘n mens die Drie-eenheid in ‘n
logiese denkgreep kan vasvat, is Hy nie meer God nie.
Van Wyk het indringend kritiek
gelewer op verskeie van die Nuwe Hervormers se sienings. Hy het verwys na die pleidooi vir ‘n
pan-enteïstiese siening van God waarvolgens God in alles is. Dit laat die onderskeid tussen God en sy
skepping vervaag en dan is God nie meer God nie.
Hy meen die paaie van die Nuwe
Hervorming en die klassieke Christendom skei by hul siening van die Bybel. Vir die Nuwe Hervormers is dit ‘n
basisdokument, maar vir die klassieke Christendom is dit die Woord van God.
Van Wyk het gevra of die twee groepe
nie oop kaarte met mekaar moet speel en erken dat hulle by ‘n skeiding van die
weë gekom het nie.
Spangenberg, wat die konventgangers
as "mede-Christene" aangespreek het, het gesê al ontken ander mense
dit, wil die Nuwe Hervormers Christene wees.
njackson@beeld.com
Het hierdie Nuwe
Hervormers die antwoorde op ons geestelike en sosiale vraagstukke? Vra hulle
die regte vrae? Bied hulle die regte
oplossing?
Die antwoorde sal weldra
duidelik wees.
HOOGSTE IDEAAL
Gerieflikheidshalwe sal
skrywer hierdie deel in die eerste persoon neerpen.
Ek het predikant geword
om vir God te werk, om deel te wees van God se span wat die
"siele-oes" sou insamel, om deel van die proses van die herstel van
die mensdom te wees - hulle is mos in "sonde" vasgevang en elke hand
was nodig om die "goeie werk" te doen. Die "koninkryk van God" moes
opgerig word - die werk het al twee duisend jaar gesloer. Dit is mos die voorgenome taak van die kerk,
dan nie? Dit sou 'n voorreg wees om Sy
heerlike werk te help klaarmaak. So het ek gedink.
Dit was 'n hoërskooldae-droom
om die bediening te betree. Skoolvriende
het dit nooit kon raai nie, want ek was seker die stoutste ou in die
skool. Alles wat verkeerd was, moes ek probeer
en doen.
Maar die stoutigheid was
alles net aandagsoekery om op te maak vir die gebrek aan ouerlike
belangstelling wat baie kinders in die laaste helfte van die vorige eeu beleef
het terwyl hul ouers, ná die Tweede Wêreldoorlog, besig was om hul loopbane te
bou. Dit was 'n gesukkel om kop bo water
te hou in 'n veranderende wêreld waarmee hulle ook nie meer kon tred hou
nie. Boonop was my ouers aan’t skei,
daarom daardie rebelsheid.
As tienderjarige het ek
reeds die gehalte van ons Westerse lewe en kultuur geweeg en oortuig geraak dat
ons samelewing op 'n glybaan na benede was, nie net in Suid-Afrika nie, maar
oral in die Weste.
Daaruit het die droom oor
die seminarie in my siel ontwaak - dit was mos die poort tot die enigste
loopbaan wat daadwerklik iets kon doen aan die verval wat ek bespeur het, 'n werk
wat goed, oftewel bevorderlik is, verheffend en veredelend. Daar was by my 'n ernstige gesmag om opwaarts
teen die verval van die lewe uit te klim en ons mense teen daardie steiltes uit
te vergesel.
Maar ek het my vasgeloop teen
die mees geslepe bedrogstuk wat daar nog in die geskiedenis van die mensdom
gepleeg is. Destyds het ek nie die
onderstrominge of implikasies daarvan verstaan nie en dit het jare se navorsing
en ondersoek gekos om daaroor duidelikheid te kry. Die inhoud van hierdie skrywe bevat dus die
gevolgtrekkings rakende die teologie en sosiologie waartoe ek oor die afgelope
dertig jaar gekom het. Dit word ter
bespreking hier uiteengesit.
Kon daardie ondersoek in
minder as dertig jaar afgehandel gewees het?
Ja, indien ek die regte boeke raakgeloop het, die geld gehad het om
hulle te koop en die tyd gehad het om hulle te lees.
Omdat ek nou weet dat ons
mense nie eintlik die tyd het om elkeen op sy eie so 'n tog aan te pak nie, om
soveel tyd in te sit om “die wêreld te verstaan” nie, word die pertinente feite
hier, in een boek, op die goedkoopste wyse moontlik aangebied, sodat dit minder
tyd en koste sal verg om hierdie belangrike ontdekkings te maak wat nou vir ons
oorlewing eintlik onontbeerlik geword het.
SKOK-ONTDEKKING IN DIE
KERK
In opregtheid het ek my teologiese
studies aangepak, met 'n ernstige en opregte soeke na waarheid daarby,
maar ná die voltooing daarvan en ná sowat agt jaar in die bediening is ek wreed
ontnugter en het ek my in 'n angswekkende doodloopstraat bevind.
Die lekker studentedae
was verby en die verantwoordelikheid van die bediening het swaar op my
gerus. Studente "swem en
braai", maar in die pastorie en op die kansel is 'n predikant se siel op
die spel, en natuurlik die gemeente s'n
ook. Ek het geweier om 'n Mattheus
33 "skrifgeleerde" of "fariseër" te wees - dit was 'n allesoorheersende
begeerte. Die besef van die
"heiligheid van die amp" was primêr in my gedagtes. Dit was vir my “die waarheid eerste".
Ek het gedink dat alle
predikante sulke beginsels oor “God se saak” sou onderskryf, daarom was dit vir
my skokkend om agter te kom dat daar in die binnekringe van die kerk sake is
waaroor daar nie gepraat mag word nie.
Maar skielik het ek oor die waarheid voor 'n ernstige krisis te staan
gekom.
Oor sowat agtien maande
was ek in 'n gewigtige konfrontasie met daardie verbode sake
gewikkel. Die spanning was ondraaglik en
aangesien dit oor teologie en leerstellings gegaan het, kon ek dit met niemand
bespreek nie. Indien my gemeente
agtergekom het dat hul leraar in 'n geestelike worstelstryd gewikkel was, sou
dit ernstige negatiewe gevolge meegebring het.
My vrou en ek moes dit alleen dra en ons het ons ondersoek maar stil
gehou.
Oor daardie agtien maande
het ons deurentyd ons stand voor die Allerhoogste geweeg en meer gelees as
ooit, want die implikasies was skielik duideliker as in die lesingsale waar jy
vir die bedieningsamp voorberei word.
Ons moes weet of die vrae waarvoor ons te staan gekom het, "heilige
vrae" was, en of hulle vanuit "die Woord van God" beantwoord kon
word al dan nie, of hulle die saak van die waarheid geraak het al dan nie.
'n Ander predikant wat vroeër
om die twintigste eeu 'n soortgelyke ervaring gehad het, spreek die slotsom
waartoe hy gekom het baie duidelik uit.
Hy sê:
"I
had come to realize that there was no way in which I could be an honest man and
remain a minister." (geskryf in 1918).
Daardie woorde het ek toe
sowat sestig jaar later ook geuiter.
Oor die laaste twee drie
heen het honderde ander predikante dit ook oorgekom en baie van hul verhale is
geboekstaaf en kan op die Internet gevind word.
Die botsing van "eerlikheid"
met dit wat in die kerk aangaan, was vir my (en vir daardie ander predikante)
so 'n ernstige botsing dat ek (en hulle ook) die bediening moes verlaat.
Waarheid het ons gedwing om uit
die bediening te bedank. Dit klink sekerlik
vir u, die leser ongelooflik.
Dit is my ervaring van
die meeste Christene wat ek ooit leer ken het, dat hulle wat daardie
Christelike beginsels bely, van die oneerlikste mense is wat ooit my pad
gekruis het. Dit is waar van Christen familie
én vriende, en ook van lidmate uit elke kerkgenootskap waarmee ek te doen gehad
het. Ek het agtergekom dat die meeste
Christene verkies om eerder leuens te hoor, meer, dat hulle byna aandring om
leuens vertel te word, eerder as die waarheid.
Erger nog, baie van hulle verfoei enigeen wat die waarheid praat.
Daarom die stelling van
die predikant hierbo en wat hiernaas vertaal is:
Mettertyd
het ek besef dat ek glad nie 'n eerlike man en terselfdertyd 'n predikant kon
wees nie
Die kwessies wat in
hierdie boek bespreek word, handel eerder oor die leerstellings van die kerke
en nie die feilbaarheid van mense nie.
Niemand is volmaak nie - dit word gelyk gegee. Maar waar die waarheid in gedrang kom, sal
die eerlike en opregte student gou met die kerkleiers in botsing kom. Dit is met die offisiële, kerklike
oneerlikheid waarmee ek my nie kon vereenselwig nie.
HARTSEER
Ná ons bedanking het ons 'n
verdere twee jaar gewag om te kyk of ons besluit, al was dit dan net vir
myself, herroep moes word, maar ná die twee jaar en as gevolg van verdere
leeswerk was ons meer oortuig van ons standpunt as toe ons dit daardie eerste
keer gewaag het om 'n vraag oor die kerk en die leerstellings te vra.
So het dit gekom dat ek
hierdie vraagstukke vir meer as twintig jaar lank sou ondersoek.
Daardie tyd van
bevraagtekening het gepaard gegaan met aanhoudende selfondersoek en elke besluit
is oorweeg en heroorweeg. Ons motiewe
vir die aanname van elke standpunt is keer op keer geweeg en ek het myself oor
en oor afgevra waarom ek 'n spesiefieke standpunt ingeneem het. Die enigste wettige rede was dat so 'n stelling
of standpunt die waarheid is. Wanneer
iets die waarheid is, mag daar nie oor geargumenteer word nie, dan is daardie
waarheid primêr en moet dit sonder versuim aangeneem word.
Hierdie boek is 'n samevatting
en uiteensetting van daardie ondersoek en vertel vinniger vir die leser dit wat
baie lank sou neem om self uit te vind.
En dit vertel van dit wat reeds oor drie en meer eeue heen agter die
skerms in die kerk aan die gang is.
Elke ontdekking was 'n verskriklike
skok, daarom dat min predikante hierdie pad sal loop - al word hulle gewys op
die pad, want die implikasies is absoluut verwoestend. Boonop is meeste mense maar baie terughoudend
wanneer dit kom by enige iets wat hulle uit hul gemaksone sal ruk of ongerief
gaan veroorsaak. Hulle wil liewer nie
weet nie... en dit is dalk vir die Weste die grootste tragedie.
INSIG BEGIN
In sy boek, Forgery in
Christianity, (1930) kwoteer regter Wheless van die VSA die volgende woorde
van Alva Johnston:
As onderwyser is
jou enigste belang om die waarheid te ontdek.
As predikant moet jy ook ander belange as die waarheid in stand
hou. Dit is jou taak om versigtig met
die totale religieuse erfenis te werk te gaan, sodat die deugde wat in die ouer
tradisies betrokke is, nie deur jou eiesinnigheid en andersdenkendheid vergaan
nie. Dit is 'n formidabele en
teisterende taak; aangesien niemand seker kan wees waar pedagogiese
(opvoedkundige) omsigtigheid eindig EN ONEERLIKHEID BEGIN NIE!" (Vry vertaal, hierdie skrywer se klem). (2)
Dit is waar dat die kerk
nie net "die Bybel" alleen is nie, maar ook twee duisend en meer jaar
se tradisie en oorlewering. Die kerk
bestaan ook uit die besluite van duisende ander vergaderings vanuit die dae van
die kerkvaders tot by die laaste sinodesitting.
Om "kerk" te wees, impliseer dat honderde ander geskrifte soos
die Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leerreëls, die Institusie
van Calvyn, die een of ander "belydenis", wat almal amptelike
standpunte geword het, ook aanvaar en onderhou moet word. Dus is dit moeilik om sonder twyfel aan te
dui waar die "Woord van God" eindig en mensgemaakte tradisie
begin. Meeste Christene besef nie dat
die kerk bestaan uit talle ander "bestanddele" as net die Bybel nie -
hulle dink om deel van die kerk te wees, is dit net nodig om 'n bietjie
van die Bybel te ken, maar dit is nie so nie, en omdat Christene nie hierdie
geskiedenis van die kerk ken nie, en nie die inhoud van daardie eeue se insette
bestudeer nie, word hulle ook maklik aan hul neuse rondgelei.
Toe ons die bediening
verlaat het, wou ons natuurlik na 'n ander denominasie oorgaan en die
"goeie werk" daar voortsit, maar ons het gou agtergekom dat dieselfde
soort vraagstukke ook by die ander kerkgenootskappe teenwoordig was. Hulle lede en leiers het ook maar met dieselfde
"moeilike" teologiese vrae geworstel en ook hulle was ontwykend en
onjuis rondom daardie vrae.
Skynbaar is begrotings
wat móét klop vir alle kerke eenvoudig 'n eerste prioriteit eerder as
"siele" of selfs die "waarheid". Begrotings wat nie klop nie eis 'n onmiddellik
tol - die sieleoes, leerstellige ondersoek en interpretasie kan later,
op 'n ander dag, aangespreek word.
Enkele voorbeelde van
daardie "moeilike" vrae word hier gelys, maar die volgende hoofstukke
sal daardie vrae onder die vergrootglas bring en uitbou sodat die implikasies daarvan
duideliker begryp kan word. Mense
veronderstel dat die Bybelse weergawe van die geskiedenis van die wêreld waar
en korrek is, en daarom vra ek:
a) Indien die kerke se interpretasie
van die Bybel korrek en waar is, is die aarde net sowat ses duisend jaar oud,
dan vra ons wanneer dinosourusse geleef het?
Almal behalwe skeppinggelowiges begryp dat dit nie gedurende die laaste
6000 jaar was nie.
b) as die verhaal van
Adam en Eva waar is, wie was Kain se vrou (Gen. 4:17)? En as hulle die eerste vier mense op aarde
was, vir wie het Kain 'n stad gebou (ook 4:17)?
c) hoe lank gelede was
die sogenaamde "sondvloed" wat die hele aarde bedek het en
waarom is argeoloë, geoloë en ander wetenskaplikes nie daarvan oortuig
nie? Waarom strook daardie verhaal nie
met die huidige of vroeëre geologiese toestand van die wêreld nie?
d) waar kom die
verskillende menslike rasse vandaan? Kom
almal uit "Adam en Eva?" Is al
die rasse tydens die sondvloed uitgewis soos die Noag-verhaal beweer? Waar het hulle toe weer vandaan gekom? Het al die verskillende rasse uit die drie
seuns van Noag voortgekom, en dit net sowat 4500 jaar gelede?
e) deur wie en wanneer is
daardie eerste hoofstukke van Genesis geskryf en hoe het daardie skrywer die
gegewens van die "sewe dae" skepping uitgevind? Hoe weet hy van dinge wat gebeur het toe daar
nog nie mense was nie? "Op die
eerste dag het God..."
f) wanneer is die ander
dele van die Ou Testament geskryf? Godsdienswetenskaplikes is oortuig dat die
meeste daarvan eers tussen 400 en 200 V.G.E. ("Voor Gemene Era" of
"voor Christus") geskryf is? Is dit korrek? As dit korrek is, watter implikasies hou dit
vir Bybelgeloof in?
g) wanneer en deur wie is
die boeke van die Nuwe Testament geskryf?
h) wanneer en waar
is Jesus gebore?
i) wie was Sy voorouers?,
ens.
Daar is nog baie meer...
Elke eerlike en opregte
student van die Bybel en die kerkgeskiedenis moet hierdie vrae aanspreek en
beantwoord. Op universiteit en kollege
word hierdie vrae gewoonlik so vlugtig moontlik behandel, en eintlik omseil,
terwyl hulle uiters belangrik is.
VERWARRING
Daar is onder die
teologiese professore en voorste deskundiges in Bybel- en kerkgeskiedenis geen
duidelikheid of eenstemmigheid oor enige van die bostaande vrae nie. Elkeen van daardie deskundiges het hul eie
mening oor hoe, waar en wanneer daardie gebeurlikhede plaasgevind het.
Vir eerlike en opregte
studente tree verbystering in wanneer hulle besef dat daar oor die twee duisend
jaar van die Christelike kerk se bestaan en al die studies wat oor al daardie
eeue gedoen is, nog nie deur die kerk bevredigende antwoorde op daardie vrae
ter tafel geplaas is nie. U en ek kan
net wonder hoe lank dit nog gaan neem om die antwoorde op daardie vrae te
formuleer.
Die antwoorde word
dringend van die kerke en teoloë verwag, want daar is baie ander, moeiliker
vrae wat gevra gaan word.
Destyds het ek net een
moeilike vraag gevra waarna my tyd in die bediening toe vinnig uitgeloop het. Die vraag het gehandel oor die laaste oordeel
voor die Groot Regter. Sou dit letterlik
plaasvind en sal elke gelowige in persoon in die groot ewige hof moet verskyn?
Of was daardie Bybelse profesië bloot simbolies? Is die oordeel dan nie "in
Christus", aan die kruis, voltooi en afgehandel nie? Talle predikante is oortuig dat die
"laaste oordeel" nie tydens 'n letterlike hofsitting sal plaasvind nie,
terwyl ander teoloë meen dat ons juis voor almal wat ooit op aarde geleef het,
letterlik in daardie groot hof sal moet verskyn, om daar verantwoording te doen
vir al ons sonde wat bekendgemaak gaan word aan die heelal. Intussen kan
professore en geleerdes aan beide kante van die argument gevind word - en wat sal
gelowiges daaroor glo? Hoe besluit hulle
as die spesialiste so verdeeld is? Die
Bybel gee te kenne dat daar 'n finale oordeel gaan wees, maar ek was oortuig
dat 'n mens by die kruis, in en deur Jesus geoordeel word, dat die oordeel vir
die gelowige daar afgehandel is en nie uitgestel word tot eendag in die verre
toekoms by 'n letterlike verhoor nie (sien Johannes 12:31).
Ons het in daardie jare
agtergekom dat daar ná twee duisend jaar steeds oor elke leerstelling getwis
word – geen een was duidelik en seker nie.
Toe ons uiteindelik besef
het dat die saak van die waarheid (en dus van die Skepper) nie werklik binne die
kerk gedien word nie, was dit vir ons 'n geweldige skok, en toe dit tot ons
deurgedring het dat die kerk eerder oor sy inkomste as oor siele besorgd is,
was ons teleurstelling so groot dat ons maande lank, spreekwoordelik, tot die
dood toe siek was.
Ek kon nie anders as om
die bediening te verlaat nie.
Maar op daardie hartseer
en teleurstellende dag het ons nog nie die diepere redes vir daardie geestelike
konflik ten volle begryp nie en het ons nie geweet dat ons dit nog vir jare
lank sou ondersoek nie.
WAARHEEN DIE SOEKE?
Niemand kon raai waarheen
daardie soeke sou lei.
Genoeg om te sê dat ek as
jeugdige begin het met 'n diep en opregte verlange om die "werk van die
Here" te doen - en dat dit in teleurstellende ontnugtering geëindig
het. Daar was geen groter verlange as om
te sien dat die "werk van die Here" uitgebou word en dat daadwerklike
teëstand vir die Weste se agteruitgang gebied word nie. Daar moes standpunt ingeneem word teen
enigeen wat sy vryheid misbruik het in 'n roekelose winsbejag met gepaardgaande
bevordering van boosheid.
Helaas, dit het vir my
duidelik geword dat die kerk min weerstand teen die verval sou bied. Ten spyte van al die kerke se aktiwiteite en
al hul groot saamtrekke en tien duisende bekerings onder die Billy Grahams,
Jimmy Swaggerts, Ray MacCauleys en Theo Wolmaranse van die lewe, ten spyte van
al die katkisasieklasse en al die Sondagpreke en al die radio- en
televisiedienste, lyk dit asof daar nou meer boosheid is as ooit tevore en asof
daar 'n onkeerbare versnelling in die tempo daarvan is.
Dit is die prognose en
dit lyk ernstig en ek kannie anders as om te vra: Waarom dan?
ONKUNDE
Een van die belangrikste standpunte
waarna daar herhaaldelik hierin verwys sal word, is die mening van die
ampsdraers van die kerk dat ons nie die Kerk of die Bybel mag bevraagteken of
kritiseer nie. Christene is so
gebreinspoel dat hulle in die naam van die kerk byna enige iets sal doen en glo
- behalwe om die kerk en haar instellings onder 'n vergrootglas te plaas en
ondersoek in te stel na dit wat onder die dekmantel van “God se werk”
gebeur. Deur alles wat in die kerk
gebeur bloot aan die "werk van die Heilige Gees" toe te skryf, word
alle besluite en handelinge dadelik bo verdenking of kritiek geplaas. Eensklaps word enige en alle verkeerde
genootskaplike en organisatoriese handelinge "heilig" en dus
onaantasbaar. Met daardie skuiwergat
ontduik baie ampsdraers dan verantwoording vir hul besluite of optrede.
Die gedagte dat lidmate
die kerk blindelings moet volg omdat ons in hierdie lewe alles "deur 'n
spieël in 'n raaisel" sien, is vir Christene belangriker as om iets te wéét,
as om elke vraagstuk te ondersoek en te bepaal of dit die waarheid is aldan nie. Talle kerklike slenters word toegesmeer met
woorde soos "Ons verstaan nou net ten dele...", en "die weë van
die Here is vreemde weë..." Ek is
oortuig dis slenters in diens van oëverblindery.
Verdermeer is ek beslis
daarvan oortuig dat ons juis nie oor die kerklike, of die sogenaamde
"ewige" dinge, onkundig of oningelig mag wees nie. Die duidelike waarskuwing daaroor wat tot
alle Christene behoort te spreek is die woorde in Hosea 4:6 wat sê:
My volk
gaan ten gronde weens 'n gebrek aan kennis.
Daardie woorde weerspieël
'n ewige en onveranderlike beginsel wat op alle mense in alle tye van
toepassing is.
As ons oningelig of
onkundig is, sal ons aan hulle wat wel ingelig en kundig is, onderwerp word.
Dom en oningeligte mense
is altyd die slawe van slim mense. En
die "slim mense" van vandag, die "konings van die aarde", het
'n agenda wat ons in gevaar bring - kyk hoe lyk die Weste. Dit is verwant aan daardie "moeilikste
teks in die Bybel" waarvan ons reeds hierin verneem het.
Ek is oortuig dat die
Skepper nie 'n klomp onkundige en oningeligte volgelinge wil hê nie, maar wel
hulle met baie kennis, mense wat verstaan wat in die kerk en in die lewe rondom
hulle aangaan. Sulke mense kan tog 'n bydrae
lewer, terwyl hulle wat niks weet nie, wat oningelig is, niks daadwerlik tot Sy
saak kan bydra nie en eintlik net 'n remskoen vir Sy heilige werk is.
FILOSOFIE OOR VRAE
Die standpunt hierbo
bring mee dat ons na 'n belangrike filosofiese standpunt moet kyk, naamlik:
Is dit sonde en verkeerd
as ons diepgaande vrae oor die Bybel, die kerk, of die Skepper vra?
Ek is saam met talle
ander nugtere denkers oortuig dat dit nie sonde is nie, want die filosofie oor
vrae vra is eenvoudig. Hier is dit:
Op die heuwels buite
Pretoria staan 'n monument. Hulle noem
dit die Voortrekker Monument.
Is dit sonde of verkeerd
om daaroor vrae te vra? Sal die vra van
vrae daaroor dit enige skade berokken?
Hoeveel vrae kan ons daaroor vra voordat skade aangerig of die wese
daarvan aangetas sal word? Een? 'n Honderd?
'n Honderdduisend?
Die volgende vrae kan daaroor gevra word:
Is dit hoog? Is dit mooi?
Is dit koud? Het dit trappe? Het dit 'n deur? Is daar vensters? Betaal mens om in te gaan? Is dit van klip? Is sement gebruik? Kan mens tot by die dak opklim? Hoeveel mense het die inwyding bygewoon? Het Moerdijk dit ontwerp? Kom daar baie besoekers? Hoeveel besoekers gaan daarheen? Wie het dit gebou? Wie het daarvoor betaal? Is daar 'n gat in die dak? Skyn die son op 16 Desember om 12h00
daardeur? Wat beeld dit uit? Vertel dit 'n verhaal? Watter verhaal vertel dit? Is dit 'n ware verhaal? Moet daardie verhaal onthou word? ens.
So kan ons aangaan en al
meer vrae oor die Voortrekker Monument formuleer terwyl al daardie vrae niks
aan die wese of geskiedenis van die monument verander nie. Die Monument bly onveranderd al vra ons 'n miljoen
vrae daaroor. Al wat gebeur is dat ons
die monument al beter sal verstaan nadat ons die antwoorde op al daardie vrae
geformuleer het. Wanneer ons die
monument beter verstaan, kan ons dit beter aan ander mense beskryf en die
betekenis daarvan beter verduidelik.
Barry Ronge, die
Johannesburgse rolprent kritikus, het eens die mening uitgespreek dat dit 'n “toiletagtige oogseer” is wat "pienk
geverf behoort te word sodat popfeeste daar gehou kan word".
Om 'n antwoord op so 'n
uitspraak te lewer, om daaroor standpunt in te neem, kan eers gedoen word nadat
al die vrae rondom die Monument beantwoord is, of daar kan bloot 'n emosionele
standpunt ingeneem word wat sonder inhoud of vastigheid is, maar dit is 'n
standpunt van veel minder waarde as die ingeligte een.
Maar hoe word 'n gesonde
opinie oor enige iets geformuleer?
Deur eenvoudig meer oor
die saak te weet as wat nodig is.
Die afleiding uit
bogenoemde is dat die vra van vrae nooit "sondig" is nie, al word
vrae oor die Skepper, die Skepping, die Kerk en die Bybel gevra. Geen vraag wat deur feilbare en onbenullige
mense gestel word, kan enige verandering aan die wese van die Skepper, of Sy
Skepping, of die ewige waarheid teweegbring nie.
Inteendeel, hoe meer ons
van die Skepping weet, hoe beter sal ons aan ander kan verduidelik wat gebeur
het, hoe beter sal ons Sy handewerk kan verklaar, hoe beter sal ons weet wat
ons plek en doel in die Heelal is, hoe beter sal ons ons kinders kan lei.
Die mens moet soveel
moontlik ontdek, uitvind en verstaan sodat antwoorde geformuleer kan word en
ons by die plek kan kom waar die waarheid sal seëvier en dit ons kan vrymaak.
Ek is oortuig dat die
Skepper die mens met 'n brein toebedeel het juis sodat ons Sy handewerk kan
verstaan en ons ons plek daarin kan volstaan, nie in onkunde nie, maar met
begrip en verstand.
KENNIS IS HEILIG
Kennis is God se wapen,
nie "satan" s'n nie.
Waarheid maak vry, leuens
bring slawerny.
Die "konings van die
aarde" (Openbaring 17) gebruik ons geestelike onkunde tot hul voordeel.
Ek het nie die Bybel
nodig om enige van hierdie standpunt te handhaaf nie, maar vir hulle wat
twyfel, word 'n paar teksgedeeltes geplaas:
Neem my
tug aan, en nie silwer nie, en kennis liewer as uitgesoekte goud. Want wysheid is beter as korale, en al
die kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie.
(Spr. 8:10-11)
Deel mee
aan die wyse, en hy sal nog wyser word, leer die regverdige, en
hy sal insig vermeerder.
Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here, en kennis
van die Helige is verstand. (Spr. 9:9-10).
Sien ook Spreuke 2:2-8,
23:12, 24:14, en daar is vele ander.
Die eerlike en opregte
student weet reeds dat die werwing van kennis 'n heilige taak is, terwyl die
ontwyking van kennis 'n bondgenootskap met die "antichris" laat ontstaan. En daarmee is ons terug by die teksvers voor
in hierdie boek waarvan mense sê dat dit nie in die Bybel staan nie, nl.
daardie "moeilikste", dog maklikste teks in die Bybel.
Dit is die “antichris en
sy bose volgelinge” wat die soeke na kennis en wysheid teëstaan, nie die
Skepper nie. Toegewyde mense wat 'n begeerte
na "heiligheid", of te wel 'n begeerte na opwaartse groei in hul
ronddra, mag vrae oor die Skepper en die Skepping, die Bybel en die Kerk,
vra. Almal mag vrae vra, u en ek ook.
Dit is duidelik dat daar
groepe is wat die soeke na kennis steun en ander wat dit teëstaan.
Ek soek na kennis en
begrip - dit is 'n heilige taak.
Dit is ook die taak van
almal wat die waarheid liefhet, om die duisternis van onkunde tussen ons mense
te verdryf!
KERK GEEN LIEFHEBBER VAN
KENNIS
Dit is interessant om in
die geskiedenis daarop te let wie dit was wat by uitstek die soeke na begrip en
kennis teëgestaan het. Dit was juis 'n Christelike
beweging, nl. die Rooms Katolieke Kerk met sy pouse en priesters. Later het die Protestantisme ook daaraan
meegemaak en het hulle die "andersdenkendes" vervolg, iets wat vandag
nog gebeur. Enige eerlike student kan
dit vir homself vergewis.
Die Katolieke het almal
wat met hulle verskil het, doodgemaak en ons weet vandag dat baie van daardie
"ketters" van ouds eintlik onskuldig en reg was, dat hulle eintlik
heilige martelare was wat eerste sal wees om die kerke se ewige lewe te beërwe,
terwyl die pouse tydens daardie verfoeilike optrede van hulle heeltemal verkeerd
was en gevolglik nie hulle eie "ewige lewe" wat hulle
verkondig het, kan beërwe nie. Die
geskiedenis van die Rooms Katolisisme loop oor van skendings van menseregte en
die vernietiging van kennis.
En dit was onder leiding
van hulle biskoppe dat die vroeë Christene die wêreld se grootste en mees
geskiedkundige biblioteek verwoes en in puin gelê het, nl. die biblioteek te
Alexandrië. Daardie gebeurtenis was vir
die mensdom een van die grootste terugslae ooit. In daardie biblioteek was daar alreeds 'n werkende
skaalmodel van ons sonnestelsel met agt planete wat om die son wentel. Met ander woorde, twee duisend jaar gelede
het die mensdom alreeds besef dat die aarde op 'n baan om die son beweeg en dat
die aarde nie die middelpunt van die heelal is nie, terwyl daardie grootse
waarheid as gevolg van die kerk se optrede vir meer as een duisend twee honderd
jaar heeltemal verlore geraak het totdat dit weer in die vyftiende eeu deur
Copernicus (1473 – 1543) en Galileo (1564 – 1642) herontdek moes word. So ook is byna die totale geskiedenis van
Midde- en Suid-Amerika deur die verfoeilike optrede van Katolieke vernietig toe
Cortez en andere duisende perkamente en goue plate waarop daardie volkere se
geskiedenis opgeteken was, deur hulle verbrand en opgesmelt is. So het dit gekom dat ons nie vandag mooi weet
wie die Maya en Incas was nie. Dit is onvergeeflik.
Enige vernietiging van
dokumente, perkamente, boekrolle of geskrifte - oud en modern - is onvergeeflik. Niemand mag daaraan meedoen nie - dit help
nooit die soeke na waarheid nie. Dit
verskaf nie 'n enkele antwoord op enigiets nie.
Dit is op die ou end net barbaars en onopgevoed.
Daarom bly daardie
gebeure 'n vlek op die Christelike geskiedenis.
Wat ons daaruit kan leer
is dat dit nie help om mense wat 'n ander opinie handhaaf te vervolg of dood te
maak, of om hulle geskrifte te vernietig nie.
Dit is die optrede van vreesagtige, oningeligte en middeleeuse
bangbroeke. Vervolging was nog elke keer
net 'n terugslag vir die hele samelewing, vir albei kante - maar die mensdom
leer nie en sal dit sekerlik weer doen en armer wees as gevolg daarvan. Dit het nog nooit gehelp om iemand wat vrae
vra of wat kritiek uitspreek, te haat en dood te maak nie. Al wat enigsins kan help is die verkryging
van die antwoorde op daardie persoon se kritiek en vrae.
Die Protestantisme is ook
skuldig aan sulke vooroordeel en vervolging.
Daardie gesindheid is vandag nog steeds by sekere Christene en
kerkgenootskappe teenwoordig. Kyk hoe
word mense wat opreg is en eerlik vrae vra, steeds vandag behandel (BEELD,
3 Junie 2004, eie klem):
Spangenberg gee pad uit die NG Kerk
Dis glo ‘n mensonvriendelike ruimte
Prof.
Sakkie Spangenberg, een van die teoloë in die middelpunt van die polemiek oor
die Nuwe Hervorming, het sy bande met die NG Kerk verbreek.
Spangenberg
het as proponent en lidmaat van die kerk bedank en die gemeenteraad van die
gemeente Pierre van Ryneveld waar hy lidmaat was, het dit aanvaar.
Spangenberg
sê die kerk het vir hom ‘n mensonvriendelike ruimte geword. Hy voel ‘n bietjie soos ‘n mishandelde vrou,
want hy het die afgelope tyd baie battering gevat.
Daar word
gesê as ‘n vrou die eerste keer mishandel word, is sy ‘n slagoffer. As sy toelaat dat dit weer gebeur, word sy
medepligtig.
Daarom
dat hy besluit het om uit die kerk te bedank.
Spangenberg
sê hy het moed verloor met die teologiese gesprek binne die NG Kerk. Dis volgens hom juis dié wat nie meer
lees nie en nie by is met die teologiese gesprek nie, wat
hom telkens aankla. Hy wil nou buite die
kerk voortgaan met die teologiese gesprek.
Hy is nou
‘n lidmaadskaplose Christen. Daar is
meer sulke mense en vir hulle wil hy iets beteken. Daar is baie mense wat hom die afgelope sewe
of agt jaar gekontak het.
Hy beplan
nie om ‘n nuwe kerk te stig of by ‘n ander kerk aan te sluit nie.
Spangenberg
sê hy sal tot sy dood ‘n Christen bly.
Hy het bloot gebreek met die Westerse vorm van die Christendom wat
voortgespruit het uit die teologie van kerkvaders soos Augustinus.
Augustinus
het volgens hom die leer van die erfsonde in die Bybel ingelees. Daar is geen Bybelse grond vir dié leestuk
nie.
Stamp ‘n
mens dié domino om, val die domino’s van die kerk se sondeleer en
verlossingsleer ook, sê Spangengberg.
Sy
bedanking kom teen ‘n agtergrond van klagtes van leerdwaling teen Spangenberg
en verskeie gesprekke wat op gemeente-, ring- en algemene sinodale vlak met hom
gevoer is oor sy standpunte.
Die ring
van Lyttleton het vroeër verklaar dat Spangenberg se standpunte nie meer te rym
is met die Christendom nie.
Die
gemeenteraad spreek sy hartseer uit dat Spangenberg se gesloofstandpunte
daartoe gelei het dat hy hom nie langer met die belydenisstandpunte van die NG
Kerk kan versoen nie en dat hy ook nie van sy stanpunte afsien nie.
neelsjackson@beeld.com
Ons kan net wonder waarom
die kerke inligting en kennis vrees.
Daar is regtig nog nie veel gevorder van die Middel- of Donkereeue
nie.
Om die minste te sê is
dit kommerwekkend dat enigeen wat 'n vraag vra of 'n ander opinie huldig
vervolg word, soos prof. Spangenberg sê, deur hulle wat uit die geledere is van
diegene wat “nie lees of by is met die gesprek nie”. Met ander woorde - dit is gewoonlik mense wat
niks weet nie wat andere wil vervolg.
TAKTIEK
Verskillende strategië
word gebruik om ons mense "oningelig" te hou.
Eers was daar die
blatante pogings van die Roomse Kerk om inligting van ons mense in Europa te
weerhou:
Die kerk
het hard probeer om die lees van die Bybel te verhoed - op grond daarvan dat
mense naby verlossing is wanneer hulle onnosel (dom, oningelig) is - maar
daardie stryd het hulle toe reeds verloor... (toe die drukpers uitgevind is...) (Criminal History of Mankind, bl. 338, vry
vertaal). (3)
Om inligting van ons mense
in Europa te weerhou was 'n ernstige stryd wat oor honderde jare teen ons mense
gevoer is. Dit word die Donkereeue
genoem.
Ek glo dat daardie selfde
ding vandag steeds gedoen word, maar tans op 'n baie meer subtiele wyse.
Moderne kerkgenootskappe
gee jaarliks duisende boeke uit wat net hul eie weergawe of interpretasie
van die geskiedenis weergee en jaag dan hul lidmate se skuldgevoelens daaroor
op in 'n poging om hulle te kry om dit te koop (vir winste) en te lees (om
hulle van hul mening feitlik te breinspoel).
Lidmate van een genootskap sien byna nooit ander genootskappe se boeke
en nog minder, sekulêre boeke nie. Dan
word kerklidmate met allerhande kerkbedrywighede so besig gehou dat hulle nie
tyd het om te dink oor enige dogmatiese of leerstellige vraagstukke nie.
Dan is daar 'n ander
metode om "ongeoorloofde" studie te verhoed. Sommige kerkgenootskappe hou sulke
"warm" en lang dienste, lofprysinge en aanbidding, dat hulle lidmate
hul op 'n Sondag so "ooreet" aan die geestelike spyse dat hulle glad
nie deur die week "lus kry" om te "peusel" aan enige ander
inligting of kennis nie. Ek is oortuig
dat daardie genootskappe eintlik besef dat sekulêre kennis hul lidmate sal
weglei en daarom hoor ons nooit van hul kansels die opdrag tot wyer studie of
leesgebied nie.
Ook word lidmate met 'n ou
bekende propagandastuk mislei. Hulle
word vertel dat hulle bekeerd is, dat hulle gevul is met die Heilige Gees, dat
hulle die doping van die Gees ontvang het, hulle praat selfs in tale, en hulle
is oppad na perfektheid (volmaaktheid) en dan kan die gemiddelde mens nie anders
as om te dink dat hy "goed genoeg" is, dat hy op die regte pad is,
dat hy meer weet as die arme drommel in ander kerke of op straat nie. Hy is goed mislei om te dink dat hy nie nodig
het om verdere moeite te doen nie, om sy eie leeswerk te doen nie. Hy glo dat hy niks meer nodig het nie.
Dit klink so bekend. O ja
- dit staan mos in Openbaring 3:17. Daar
word die verwerplike kerk mos beskryf, nie waar nie?
Want jy sê: ek is ryk en het verryk
geword en het aan niks gebrek nie...
Die eerste deel van
daardie teks is interessant, maar die tweede deel is die waarheid:
...en jy
weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak
is nie...
Die Protestantse
genootskappe, soos die Roomse kerk, is duidelik besig met 'n program van
kennis-weerhouding. Ná al die eeue word
kerklidmate steeds aan 'n sensor onderwerp, net op 'n baie meer subtiele manier
as by die Katolieke. Lidmate word
sagkuns aangemoedig om aandag te gee aan alleen hulle eie of
"goedgekeurde" kerkleesstof.
Dit gebeur ook in die kerk waaraan u behoort, nie waar nie? Uitsonderings sal vir die skrywer interessant
wees om van kennis te neem.
Dus is ek oortuig dat
daardie kerkmense, wat "ryk en verryk" geword het, wat
"louwarm" is en uit die mond van God "gespuug" gaan word
(Open. 3:15-16), wat byna nooit lees nie
en min weet, nie die reg of ruimte het om vir my te sê dat ek
"verlore" of 'n ketter is nie.
In stede daarvan word hulle aangemoedig om wyd te lees en om sodoende
kennis oor die kerk en die geskiedenis daarvan in te win wat sonder twyfel tot
hul geestelike groei sal bydra.
Daarom sê ek vir een en
almal: Lees - moet nooit ophou lees nie.
UITDAGING
Een denker stel die
uitdaging so:
No man
can be really big who does not read widely outside his own field.
(Theodore N. Vail).
En 'n ander sê:
Hy wat
niks weet nie, moet alles glo.
Indien die kerke vir hul
mense sou sê dat hulle wyer moet lees, sal daar net een gevolg wees – lidmate
sal hulself uit die kerk uit lees en hierdie skrywer is bereid om dit ter enige
tyd op die proef te stel - laat net 'n aanbieding hieroor in u gemeente toe.
As dit nie so is nie, as
predikante dink dat daar nie kennis en inligting is wat hul lidmate uit die
kerk sal lei nie, dan daag ek hulle uit om hulle lidmate te wys op boeke soos
The Jesus Mysteries, The Q Document, The Two Babylons, The Dead
Sea Scrolls Deception, Jesus the Man, The Christ Myth, The
Political and Mythological Origins of Christianity - en Reimarus, Strauss
en Schweitzer se werke oor die historiese Jesus, en natuurlik ook hierdie en
soveel ander werke.
'n Goeie vriend het dit
onlangs so gestel:
Geloof is
wat jy het voordat jy begin dink. (Overgesetsynde: Geloof is al
wat oorbly as jy ophou dink).
Sulke sêgoed sny diep,
maar dit word vertrou dat dit die eerste motivering tot die versameling van
kennis sal wees.
Wyer kennis word van
kerkmense weerhou. Sekere kennis word
ingeperk, maar kennis is die wapen van die Allerhoogste. Kennis werk vir die Skepper en nooit teen
Hom nie.
Onkunde werk teen
die Skepper en vir die "duisternis" of die
"bose". Onkunde is die wapen
van daardie beweging wat algemeen as die Nuwe Wêreldorde bekend staan en
wanneer predikante inligting inperk of hul lidmate daarvan weerhou, werk hulle
eintlik vir die "ou slang" en die "duisternis". So het die Donkereeue ontstaan en so is
daardie tydperk vir meer as een duisend twee honderd jaar uitgerek en in stand
gehou.
Lees meer, liewe vriend,
nie romanne nie, maar nie-fiksie. Die
stryd vir kennis is die stryd van hierdie eeu, 'n stryd vir kennis wat ons
kerkgenootskappe bewustelik of onbewustelik van ons weerhou.
Die mees
algemene fout is om heelhartig te glo in dit wat net NIE waar is nie. Tog is dit die eerste belangstelling van die
mensdom. (Vry vertaal) (4)
Kennis en insig is die
verheffende krag van die Allerhoogste en dit is eintlik elkeen se eerste en
belangrikste taak om dit te verkry. Die
luiheid van ons mense in hierdie tydvak is grootliks daarvoor verantwoordelik
dat die Weste in sy huidige vervalle toestand beland het.
"Daar
is niks waartoe die mens hom nie sal wend om die ware taak van denke te ontsnap
nie". (Teen die muur in Thomas Edison se laboratorium)
Nooit mag daar vir ons
gesê word dat ons "net moet
glo" nie, dat ons sommer blindelings dinge moet aanvaar omdat ons kwansuis
"deur 'n spieël in 'n raaisel sien" nie. Daar broei onheil waar dit verkondig
word. Maar om die waarheid te praat, is
nie altyd maklik nie. U sal, soos
hierdie skrywer, uitvind dat:
"In
'n wêreld van universele misleiding, is dit revolusionêr om die waarheid te
praat".
(George Orwell)
Weet! Begryp!
Verstaan! Om meer te verstaan is
die wil van die Skepper, daarom is ons intelligent geskape. Om te verstaan is om 'n heilige stryd op te
neem, die Skepper se stryd. Wanneer ons vrae oor die ewigheid en ons
omstandighede vra en ons vertel word om "nie teveel daaroor te bekommer
nie", is dit juis 'n antwoord ten gunste van die pad van die duisternis.
"Wat
u nie weet nie is nie die enigste probleem nie; verkeerde kennis
is 'n veel groter probleem". (Finley Peter Dunne)
Daarom moet ons elkeen
die wêreld van ondersoek betree en, indien u 'n leier is, is u
verantwoordelikheid soveel groter en gewigtiger. Dit help nie om 'n Christen te wees wat net
iets van die Bybel weet nie. U moet iets
weet van plante en diere, van die liggaam - die oog en die oor, die brein en
die hart, van die sterre en die planete en hul bane, van die antropologie
(mensekunde), iets oor die dinousourus (paleontologie) en van antieke tye (algemene
geskiedenis), van die kerkgeskiedenis (Rooms en Protestants), van Luther (1483
– 1546) en Calvyn (1509 – 1564) en van
die pouse, van die reise van Columbus en Diaz oor die verre see, van Galileo en
van Guttenberg.
Ons moet groot word,
volwasse word.
"A
man without a knowledge of his people's history - remains a child
forever."
(Marcus Tullius Cicero)
EWIGE DOEL
Op sestien het daar 'n
hete vlam in my siel ontbrand om die negatiewe tendense onder ons mense te
probeer stuit, of ten minste teë te werk.
Ek het gedroom oor die veredeling van ons mense, en om daardie groot
vreugde van die lewe hoog te laat brand.
U en ek het volle reg op geluk en die soeke daarna, soos die Amerikaanse
Verklaring van Onafhanklikheid dit stel wanneer dit praat van “the search for
happiness”.
Maar die skokkende ontdekking vir my was dat dit nie deur
middel van die kerk verwesenlik kon word nie en dit het vir ons 'n lang ompad
tot gevolg gehad.
Eers moes ons Volk hier
aan die suidpunt van Afrika hul vryheid verloor; eers moes ek besef watter
impak dit op al ons mense in die Weste gaan hê; eers moes die boodskap van die
politieke en geestelike leiers van die tyd geweeg word; eers moes tientalle
boeke gelees word; en nou, ná dit alles, kan daar weer teruggekeer word na
daardie verlangde soeke na geluk. Nie
vir my nie, ook nie vir u nie, maar vir hulle in die verre toekoms:
Ons moet
die voortbestaan van ons Volk en die toekoms van ons Kinders verseker.
(net 14 woorde)
SON, MAAN EN STERRE
By 'n huwelik het ek vir 'n
bruidspaar gesê dat die vermindering in ons getalle hulle verplig om kinders in
die lewe te bring, kinders soos hulle, kinders wat die eienskappe van ons Kroos
weerkaats. Dit is verblydend dat dit in
hulle geval so is.
Maar daar is nog iets,
nl. dat hulle nie net kinders in die lewe moet bring nie, maar dat hulle
daardie kinders ook moet opvoed - beter as wat ons, hul voorgangers, opgevoed
was.
Wat word daarmee
bedoel? Dat daardie kinders moet leer
lees, skryf en optel, is 'n gegewe. Maar
hulle moet ook geleer word wie hulle is en waar hulle vandaan kom
en waarheen hulle oppad is. Hulle
moet 'n visie hê. Ons kinders moet
geleer word om opwaarts te reik, maan toe en verder, al weet hulle nie hoe
hulle daar gaan kom nie en al weet hulle nie wat hulle gaan vind wanneer hulle
daar aankom nie - maar dat hulle moet gaan - dit is die opdrag van die Natuur aan
ons Volk.
En terwyl hierdie boek
geskryf word, word daardie raad gevolg.
Skryf - al weet jy nie
hoe die ideaal bereik gaan word nie. Skryf al weet jy nie hoe dit ontvang gaan
word nie. Skryf al weet jy nie of dit waardeer sal word nie.
As die waarheid gevolg
word, sal sake reg uitwerk. Die waarheid
maak net een maal seer. Die waarheid
moet nie gevrees word nie. Die waarheid
bring bevryding en genesing. Die
waarheid maak reg wat verkeerd is. Die
waarheid herstel. Die waarheid lei - en
die mens moet volg.
Dit is, in kort, die storie van hierdie skrywer en die
omstandighede vir die ontstaan van hierdie skrywe.
There
are no saints, only sinners.
From
such crooked wood as that which man is made of, nothing straight can be
fashioned.
(Emmanuel
Kant)
No comments:
Post a Comment