PARADIGMAS
In hierdie hoofstuk kom die paradigmas waarbinne die algemene Christelike
kerkgenootskappe dink en optree ter sprake.
WAT IS 'n PARADIGMA?
Dit is 'n verwysingsraamwerk, die reëls van iemand se denke oor enige gegewe
saak, hoe ons 'n saak sien en hoe ons daaroor dink.
Dit was altyd die paradigma, of dan die reël, in ons Afrikaanse skole dat
kinders 'n uniform skool toe sou dra, dat daar 'n sekere aantal klas‑ure
bygewoon moet word, dat daar nie by die skool gerook of gedrink mag word nie,
dat leerlinge gehoorsaam sal wees, dat wapens nie deur leerlinge na die skool
geneem mag word nie, dat 'n hoë mate van dissipline gehandhaaf sal word, dat
daar 'n sekere getalle‑verhouding tussen die aantal leerlinge en onderwysers
sal wees, dat die onderwysstelsel in Suid-Afrika “Christelik-Nasionaal” sal
wees, ens. Dit is die paradigmas
waarbinne ons skolestelsel gefunksioneer het.
Elke mens het ook persoonlike paradigmas (verwysingsraamwerke) waarbinne hy
dink. Elkeen besluit vir homself oor
sake soos rook, alkohol, die keuse van 'n lewensmaat, motor, huis, of hy
kinders sal hê al dan nié, sy loopbaan, ens.
Ons erf daardie paradigmas gedeeltelik van ons ouers en dit word verder
gevorm deur ons onderwysers, predikante en Sondagskoolonderwysers, en later
voeg ons ons eie voorkeure en keuses daarby.
Met daardie vooropgestelde en gevormde verwysingsraamwerke (of
paradigmas) weeg ons elkeen die vraagstukke wat ons in die lewe konfronteer en dit
bepaal ons optrede daarteenoor.
Soms verander 'n individu se paradigmas aangaande die lewe. Wanneer insig verdiep, wanneer iemand meer
oor 'n gegewe onderwerp leer en verstaan, is dit te verstane dat sy
verwysingsraamwerk dalk ook sal verander.
Iemand kan "tot ander insigte" kom en dan van van werk en loopbaan
verander, of van kerkgenootskap, of politieke party. Sulke verskuiwings in 'n mens se persoonlike paradigmas
kan ook 'n effek op ander fasette van sy lewe hê en sy persoonlike verhoudinge
versteur ‑ 'n egskeiding mag byvoorbeeld
daarop volg, of hy kan sy loopbaan kwyt wees.
Alle instansies en organisasies het hul eie, voorafopgestelde grense
waarbinne hul lede moet optree ‑ of dit 'n bank is, 'n winkelgroep, die
weermag, die skole of dan ook, ten laaste, 'n kerkgenootskap.
Met sulke paradigmas in gedagte, sien ons die finansiële wêreld en die
handel, die vyand, die opvoedkunde en ook die lewe en die hiernamaals. Vanuit daardie eiesoortige denkraamwerke wat
elke instansie definieer, benader elkeen van hulle die vraagstukke wat hulle
van tyd tot tyd konfronteer.
Die bankbestuurder sien geld. Hy
leen dit uit en doen beleggings, hef rente en stel hom as middelman aan in
soveel transaksies moontlik, om sodoende te oorleef.
Die winkeleienaar is ingestel op wins en sal sy onderneming so struktureer om
die hoogste moontlike omset te bereik sodat dit geld maak, om sodoende te
oorleef.
'n Soldaat sal wapentuig voorberei en troepe in die vegkuns oplei sodat hy
'n oorlog kan wen, om sodoende te oorleef.
Die onderwyser poog om kinders so op te voed dat hulle welaangepaste lede
van die sosiale struktuur sal wees, met die nodige kennis om 'n positiewe rol
in die samelewing te kan vervul, om sodoende te oorleef.
Die kerke werk om mense van "sonde te red", sê hulle, en leer hul
volgelinge hoedat vertroue op die Verlosser hulle sal verseker van die ewige
lewe hierná. Hulle wil daarvolgens in
die hier en nou leef en verkondig dat, indien dit reg gedoen word, die mensdom,
u en ek, sodoende in die hiernamaals ook gaan lewe. Hulle vorder dan ook die
tiende en ander offergawes in om sodoende te kan oorleef.
Hierdie boek handel oor die dinge waarin ons "glo" ‑ daarom gaan
ons nie al hierdie ander instansies in oënskou neem nie, maar net kyk na die kerkgenootskaplike
paradigmas.
KERKGENOOTSKAPLIKE PARADIGMAS
Die teologie van die algemene Christelike kerk is ter
sprake en ons fokus dus daarop.
WAT IS TEOLOGIE?
Die woord "teologie" word afgelei vanuit Grieks. "Theos"
is Grieks vir "God" en "logos" vir
"woord". Daarom beteken
"theos‑logos" of "teologie" die studie van "God se
woord". In Grieks lyk die woorde
so: Θεος en λογος.
Die Bybel word as die "Woord van God" beskou. God het gespreek, sê die kerk, en dit is
opgeteken en dit staan vir ewig vas.
Teologie dus, soos God self, kan nooit verander nie, of so is ons nog altyd
geleer, want God verander nie, daarom kan Sy leerstellings ook nie verander
nie.
Wanneer die definisie uitgebrei word, beteken dit (die teologie) ook die
studie van kerke en hul leerstellings wat veronderstel is om vanuit die Bybel te
ontspring.
BYBEL EN BYBELSE GESAG
Die eerste en seker die belangrikste kerklike paradigma is die een oor die
Bybel.
Aan die een kant is ons van kleins af die volgende leerstellings (teologie)
van die kerk geleer, naamlik:
- dat die Bybel van God af kom;
- dat dit die onveranderlike en onfeilbare woord van God is;
- dat alles wat ons wil weet in die Bybel is;
- dat dit die wêreld se geskiedenis akkuraat weerspieël en dat die verlede
hom net so afgespeel het soos dit daar geskrywe staan ‑ dat daar letterlik 'n
Adam en Eva was, 'n Kain en Abel, Abraham, Josef, Moses, Gideon, Simson, Rut en
al die tientalle ander Bybelse karakters;
- dat die Bybel geen foute bevat nie; en
- dat daar geen veranderings aan gemaak mag word nie. 2 Timotheus 3:16 en
Openbaring 22:18 en 19 respektiewelik is altyd deur die kerke aangehaal om dit
te bewys:
Die hele Skrif is deur God ingegee
en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing . .
.
As iemand by hierdie dinge byvoeg
(d.w.s. by die Bybel) dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie
boek geskrywe is. En as iemand iets van
die woorde van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die
boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie
boek geskrywe is....
Die "kerk" het deur die eeue dit so ingesien en verkondig en
daarom het niemand dit ooit gewaag om die Bybel te verander nie.
Dit aan die een kant.
Aan die ander kant sal almal sekerlik toegee dat die Bybel iewers in die
menslike geskiedenis geskryf is. Dit het
nie van ewigheid af, of van die skepping af, bestaan nie. Vir lang eeue was die verhale wat daarin
opgeneem is oorvertel, van geslag tot geslag afgegee totdat die skryfkuns so
ver ontwikkel het dat sekere gedagtes neergepen kon word.
Selfs die Nuwe Testament het nie eensklaps tot stand gekom nie, maar het
oor sowat vier lang eeue ontwikkel. Al
die antieke geskrifte is uiteindelik deur die kerkvaders geredigeer en het 'n sekere
mate van finaliteit bereik by die Konsilie van Konstantinopel.
Voeg Diagram 1 hier in
'n ANDER GENOOTSKAPLIKE PARADIGMA
Verskillende kerkgenootskappe en gelowe het verskillende paradigmas of
denkraamwerke neergelê waarbinne hulle optree en hul boodskap verkondig.
Jode sal byvoorbeeld net die Ou Testament as "heilig" beskou
terwyl Protestante die Ou en Nuwe Testament as sulks aanvaar.
Die Rooms Katolieke Kerk gaan verder en aanvaar ook sommige van die
Apokriewe Boeke (sien Woordelys) as deel van hul kanon.
Die Jood sal sê dat die Sinai-gebeure en die Wet van Moses die
allerbelangrikste gedeelte van hul heilige geskrifte is terwyl Christene na die
kruisverhaal sal verwys as die belangrikste gebeurtenis in hul geskrifte en
daarom in hul denkraamwerk.
Vir Rooms Katoliek is die "tradisies" van die kerk (of die woorde
en dade van pouse, kerkvaders en verskeie ander heiliges) eintlik belangriker
as die Bybel.
Om die paradigmas van ons kerke te verstaan, is dit nodig om te begin by 'n
oorsig van die Roomse Kerk.
WAT IS DIE KATOLISISME?
Kort na die stigting van die Christelike beweging het dit duidelik geword
dat die gemeente te Rome die leidende gemeente van die beweging geword het. Vir
meer as 'n duisend jaar was dit dan ook die belangrikste afdeling van die
Christendom, en was daar eintlik maar net een georganiseerde Christelike
genootskap in die westerse wêreld, naamlik daardie een wat bekend geraak het as
die Rooms Katolieke Kerk.
Dit word deur die Katolieke vertel, (en die geskiedkundige bewyse hiervoor ontbreek),
dat die apostel Petrus in Rome was en dat hy die Christelike gemeente daar
gestig het en die leier daarvan geword het. Volgens die Nuwe Testament het Paulus
later tydens een van sy sendingreise by Rome besoek afgelê en die gemeente van
die Romeine daar gevind.
Constantyn was die eerste Romeinse keiser wat die Christelike geloof
"aangeneem" het en hy het dit tot die amptelike geloof van die Ryk
verhef. (Die geskiedenis van Constantyn
die Grote, 'n verskriklike wreedaard en moordenaar, selfs ná sy sogenaamde
bekering, kan geredelik nagevors word aangesien dit deeglik opgeteken is - sien
bv. Gibbon se Rise and Fall of the Roman Empire. Dit is net 'n onkundige persoon wat enigsins
sal glo dat Constantyn volgens ons hedendaagse idee daarvan 'n "goeie"
Christen was). En as hy nie die Christendom
tot staatsgeloof (staatskerk) verhef het nie, kan dit aangeneem word, sou
daardie klein, midde-Oosterse sektetjie nie tot die statuur van wêreldreligie
ontwikkel het nie. Dit is 'n gedagte waaroor meer nagevors kan word.
Die groei in mag van die leraar van die gemeente te Rome is
verstommend. In daardie vroeë, beginjare
van die Christelike geloof was daar nog baie leerstellige twispunte en die Nuwe
Testament spreek daardie getwis verskeie kere aan. Daar was in die vroeë kerk byvoorbeeld 'n getwis
oor die besnydenis van bekeerlinge, ook oor voedsel - of sekere kosse steeds as
onrein beskou moes word of nie, byvoorbeeld kreef, vark, ens. Iemand moes oor daardie kwessies uitsluitsel
gee, maar die biskoppe, d.w.s. die predikante van die verskillende gemeentes,
kon nie eenstemmigheid bereik en aan hul volgelinge uitsluitsel gee oor daardie
kwessies nie.
En so is die geleentheid vir die biskop te Rome daar gestel om tot mag toe
te tree.
Gedurende die eerste vier eeue het dit al meer nodig geword dat iemand in
die kerk die leiding moes neem, die gesag moes hê om die finale besluite te
neem oor die vraagstukke waarvoor die jong kerk te staan gekom het. Dit was byna onvermydelik dat die biskop van
die grootste stad in die bekende wêreld daardie leier sou word. Sy posisie aldaar het aan hom die nodige
glans verleen om hom bo die ander biskoppe te verhef sodat hulle in rangorde
net 'n bietjie minder as hy sou wees.
Selfs ons hedendaagse samelewing erken dat, wanneer iemand die
beslissende stem verkry of optree as die finale arbiter, hy as gevolg daarvan
as die leidende figuur beskou sal word.
So het dit gebeur dat die biskop van Rome 'n soort geestelike arbiter
geword het en daarmee die beslissende stem verkry het sodat die ander biskoppe
al meer na hom geluister het. Mettertyd
het die biskop van Rome daardie mag gekonsolideer en 'n leerstelling begin
verkondig wat sy geestelike posisie, nl. as leier van die "kerk" in
die hele wêreld, onaantasbaar gemaak het.
Hy het homself aangestel as die hoof van die Christelike kerk, op grond
van 'n gesprek tussen Jesus en Petrus waar Jesus glo vir Petrus gesê het dat
Hy, Jesus, op hom, d.i. Petrus, die kerk gaan bou (sien Mattheus 16:18). Dit is dan ook die rede waarom Katolisisme
die storie versprei dat Petrus in Rome was en die eerste biskop, (of pous), van
Rome geword het.
Die Protestantse verwysingsraamwerk daaroor is heeltemal anders. Ja, die naam Petrus beteken wel
"rots", maar daardie woorde word beslis anders geïnterpreteer. Jesus sê vir Petrus:
"Petrus, jy is 'n rots (Jesus wys na Petrus), maar, (en dan wys Jesus met Sy vinger na
Homself), maar op hierdie rots (d.w.s. op Jesus self) sal Ek my
gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie".
Protestante glo dat Jesus "die Rots der eeue" is en daarom word
gesê dat Hy die "kerk" op Homself gebou het. Hy sou dit tog nie op Petrus, 'n mens en
swakkeling wat Hom sou verloën, gebou het nie.
En, meer nog, volgens die leerstellings en teologie van die kerk was die
kerkstigting tog die doel van Sy inkarnasie, van Sy menswording en
sending. Hy het daarvoor gely en Hy is
die hoof daarvan, en, in die beeldspraak wat ook die Bybel gebruik word, die
kerk is die bruid van die Lam, of dan Jesus se “vrou”.
Volgens Protestantse denke is Jesus eintlik die "hoeksteen" of
die "rots" waarop die kerk gebou sou word, nie Petrus nie, maar die
Roomse kerk meen dat die kerk op Petrus, “die rots”, gebou sou word.
Verdermeer staan dit in die betrokke skrifgedeelte dat die poorte van die
doderyk nie daardie "rots" sou kon oorweldig nie. Dit kon net op Jesus betrekking hê aangesien dit
Hy is wat, volgens die Bybel, ná drie dae uit die dood opstaan het. Dit kan nie van Petrus gesê word nie. Die interpretasie dat Jesus die
"rots" is waarop die "kerk" gebou sou word, is dus in
Bybelse terme korrek terwyl die Katolieke interpretasie dat dit Petrus
was, verkeerd is. Daarvan is Protestante
en miljoene Westerlinge oortuig.
Maar hierdie skrywer het nie 'n redenasie wat op die Bybel geskoei is,
nodig om hom te oortuig van die swakheid van die Katolieke standpunt nie. Om Gibbon en ander geskiedskrywers oor die
opkoms van die Christendom te lees, verduidelik dit buitendien baie beter en
dit sonder om in die miljoene volumes Christelike, teologiese interpretasies
vas te val, dit alles uit te pluis en dan daarna eers tot 'n slotsom te kom.
Die pousdom versprei die gedagte dat hulle die enigste wettige Christelike
kerk op aarde is. Om dit te staaf, word
verskeie mites en legendes deur die Katolisisme verkondig:
‑ die eerste is dat Petrus in Rome was;
‑ as daardie legende geglo word, kan dit gesê word
dat Petrus die eerste leraar aldaar was;
‑ en daarna kan dit vertel word dat Petrus die
eerste biskop van Rome geword het;
‑ dan, net een tree verder en hulle kon voorgee
dat Petrus die eerste pous was. Dan is
die "gemeente" op die Petrus‑rots gebou (wat dan 'n Roomse
"rots" word).
Nie 'n enkele ware bewys bestaan egter vir hierdie legendes nie.
Let ook op dat Jesus by Rooms Katolieke byna heeltemal uit die prentjie
verdwyn het. By hulle speel Petrus en Maria
'n veel groter rol in die kerklike lewe as Jesus.
Uit daardie Roomse vergissinge kan die Roomse leerstelling van die Apostoliese
Opeenvolging voortspruit (sien Woordelys).
Dit leer dat net 'n Katolieke priester die amp as "Rots waarop die
gemeente gebou word" kan beklee.
Die eerste pous, Petrus (volgens die Roomse weergawe van gebeure), het
dan daardie amp vir sy opvolger aangegee en hy weer vir die volgende een en so
aan tot by die hede. Niemand kan dus pous
of biskop word indien hy dit nie van sy voorganger ontvang, gegee is of dit
geërf het nie. En in daardie tradisie
word pous na pous tot vandag toe in daardie amp bevestig, en daarom word
Protestantse kerke deur die Katolieke as "oneg" beskou, aangesien hulle
nie hul posisie of bestaansreg van Petrus ontvang het nie. Dit is die Katolieke se standpunt.
Maar Protestante, en baie van ons voorste teoloë en geskiedkundiges, is
oortuig dat Petrus nooit in Rome was nie en nie die eerste pous of biskop van
daardie gemeente geword het nie. Daar is
benewens die gebrek aan geskiedkundige feite daarvoor boonop die Protestantse
beskouing dat Petrus buitendien nie "die rots" was waarop die
gemeente gebou sou word nie. Dit het ons
hierbo bespreek en daarom aanvaar Protestante oor die algemeen nie die
leerstelling van die Apostoliese Opeenvolging nie.
Verdermeer, indien Petrus die eerste pous was, hou dit 'n ander probleem
vir die Katolisisme in aangesien hy beslis getroud was (sien die drie
evangelies wat daarop dui: Matt. 8:14; Markus 1:29 en Lukas 4:38). Daarteenoor verkondig die Katolisisme dat
priesters nie mag trou nie. Hulle glo
dat om "selibaat" (sien Woordelys) te bly, die een of ander inherente
heiligheid wat in die hemel aanvaarbaar is, meebring. Overgesetsynde: Rooms
Katolieke glo dat om selibaat te bly, God verbly. Dit word ten seerste betwis.
Maar wat glo die Rooms Katolieke Kerk, wat is hul teologie en leerstellings?
Ons behoort te weet, maar dit is tragies dat soveel Protestante nie meer
weet waarom hulle Protestante is nie.
Opregte studente moet liewer self na Calvyn se Institusie kyk
aangesien die inhoud byna glad nie meer deel van gereformeerde prediking of
leringe is nie. (Maar, wees gewaarsku
dat die verkorte Afrikaanse weergawe minderwaardig is en dat u liewer die
volledige weergawe daarvan in die hande moet kry (sien Bronnelys). Dit is insiggewend dat soveel belangrike
boeke in "verkorte" weergawes gepubliseer word ‑ verkort nadat
kritieke inligting uitgeredigeer is, en daarom weet ons leraars en gemeentes
nie meer waarom hulle Protestante is nie.
Daardie redigering word ten doel van genootskaplike eenwording gedoen,
om Katoliek en Protestant te herenig ‑ dit is eenvoudig).
Die onkunde onder ons mense werk vir hulle wat oor die wêreld heers en wat
ons in geestelike en politieke slawerny hou.
Die Rooms Katolieke Kerk glo onder andere in die volgende:
1. dat die pous, as hoof van die kerk, nooit teologiese (leerstellige)
foute maak nie.
Die Roomse pous, wanneer hy ex‑cathedra
praat, dit is, in diens van sy amp as leraar en dokter van alle Christene,
weens sy apostoliese oppergesag, definieer hy leerstellings rakende geloof en
morele waardes wat deur die universele Kerk onderhou moet word, deur die
goddelike hulp aan hom belowe deur die geseënde Petrus, in besit geneem is van
daardie onfeilbaarheid waarmee die Heilige Verlosser gewil het dat sy Kerk
toebedeel moet wees om leerstelling mee te definieer rakende geloof en morele
waardes: en daarom is sulke definisies vanself onveranderlik en nie weens
goedkeuring van die Kerk nie.
(Catholicism Today, p. 58,
vry
vertaal). (5)
Daar is geen Nuwe Testamentiese ondersteuning vir die bostaande gedagtes nie. Nêrens word gesê dat daar 'n pous sal wees
nie, nog minder dat so 'n pous met foutloosheid beklee sal wees nie.
In die beroemde Dictatus of Pope Gregory VII (1073‑1085),
stel hierdie pous sy foutloosheid bekend:
Die Roomse Kerk het nog nooit
gefouteer nie en dit sal ook nie in ewigheid fouteer nie. Niemand kan as Katolieke Christen beskou word
wat nie met die Katolieke Kerk saamstem nie.
Geen boek is gesaghebbend behalwe as dit die pouslike goedkeuring
ontvang het nie... Die pous is die enigste persoon wie se voete deur alle
prinse gesoen moet word, die pous mag van konings ontslae raak en die volke
kwytskeld van trou aan onregverdige heersers.
(Robinson, The Ordeal of Civilization, pp. 126, 128; Library of
Original Sources, vol. iv, p. 126‑321, vry vertaal). (6)
Maar Protestante wys op talle botsende uitsprake wat reeds deur verskeie
pouse gelewer is. In die artikel oor
Pous Pius IV in Funk & Wagnalls se New Encyclopedia, 1983, vind ons
hierdie gedeelte:
After
his election to the papacy he reversed some of the policies of his unpopular
predecessor, Paul lV ...
Een pous het die vorige een se "foute" herstel of reggestel, en
daardie "gekose man van God" was so onpopulêr dat dit honderde jare
later steeds 'n bekende feit oor hom is.
Sê nie veel vir sy onfeilbaarheid en gekosenheid nie.
Een pous het byvoorbeeld gesê dat enige iemand wat die titel
"Universele Biskop" op homself neem, die antichris is, maar die
volgende Pous, Boniface, het juis daardie titel vir homself geneem. Een pous het gesê dat huwelike wat buite die
Roomse Kerk bevestig is, tog wettig is, maar Pius Vll het sulke huwelike
vervloek. (sien Boettner se Roman
Catholicism, bl. 319 ens.). So is
daar is honderde sulke "amptelike" uitsprake wat teenstrydig en
botsend is en wat betreklik maklik is vir die leser om na te vors aangesien die
navorsing daaroor reeds breedvoerig en op 'n wetenskaplike manier gedoen is. Protestante behoort die bostaande verklarings
van die Katolisisme te verwerp. Ons doen
dit beslis.
2. dat priesters en nonne nie mag trou nie omdat natuurlike seksuele
verkeer besoedelend van aard is, wat kwansuis hul sieleheil in gedrang
bring. Protestante glo dat predikante en
alle werknemers van die kerk mag trou en hierdie skrywer is oortuig dat die
opdrag om te trou en kinders in die lewe te bring, vir alle mense gegee is en
'n heilige opdrag is ‑ ook vir skrifgeleerdes, predikante en priesters. Die skepping leer ons dat die voortplanting
van jou eie spesie die heilige wil van die Skepper vervul. Indien alle vroue nonne sou word en alle mans
priesters, dan sou die menslike spesie in een geslag uitsterf en sal die kerk
buitendien ook dadelik verdwyn, dus kan so 'n interpretasie nie van die
Skepper afkomstig wees nie. Net hierdie
een leerstelling toon vir hierdie skrywer 'n ernstige mate van geestesversteurdheid
by Katolieke leerstellings;
3. dat nonne hulself "rein" moet hou, m.a.w. dat hulle maagde
moet bly om sodoende die "bruid van Jesus" te wees. Protestante leer daarteenoor dat die hele
kerk, mans, vroue en kinders wat die "Verlosser" aanneem, die
"bruid van die Lam" is. Daar
is niks in die Bybel of die natuur wat daarop dui dat die mens die letterlike
bruid van die Skepper gaan wees sodat vroue "nonne" moet wees nie;
4. dat Maria, die aardse vrou wat kwansuis in Palestina geleef het, nie net
Jesus se moeder is nie, maar in der waarheid ook die "moeder van God"
is. Die foto hiernaas is in Engeland
geneem.
Dit is reeds vir baie mense uiters moeilik om te glo dat God die Vader op
aarde was, dat Hy uit 'n vrou gebore is en dat Hy as Jesus hier tussen mense
geleef het. Maar vir baie van ons mense
is dit nog meer onaanvaarbaar, en onmoontlik, om te glo dat die moeder van God
toe ook op aarde was, in die vorm van Maria, tog is dit wat Katolieke glo en
verkondig, nl. dat Maria die moeder van God is en vir altyd en vir ewig 'n maagd
is, maak nie saak dat die Bybel self daarop dui dat Jesus broers en susters
gehad het nie (Mark. 3:33 ‑ in die oudste manuskripte was geskryf: "en
susters", maar daardie woorde is deur vertalers verwyder).
Verdermeer leer Katolieke dat Maria namens die sondaar by Jesus kan intree
om Jesus te oorreed om die sondaar genadig te wees, maar Protestante huldig nie
daardie standpunte nie en maak geen ophef van Maria nie. Protestante huldig Luther se siening dat
sondaars aangaande hul verhouding met God Hom in geloof direk daaroor mag
nader (sien 1 Petrus 2:9). Vir miljoene
ander Westerlinge is daardie Maria-storie en ander soortgelyke Roomse
oorleweringe pure bog en steur ons ons glad nie daaraan nie. Inteendeel, Maria
was in daardie eerste eeue byna 'n vergete figuur:
What
was actually recorded of Mary / Mariamne in the only accepted Christian
writings provided scant information indeed about the woman the church now calls
the mother‑of‑God. In the Gospels she
was rarely mentioned. In fact, she was
not mentioned by name in the oldest version of the Mark Gospel in the oldest
Bibles. Nor was she mentioned in the
oldest version of the John Gospel ... From here onwards, Mary almost vanished
from the church texts, and apart from a obscure final reference to her in the
Acts of the Apostles (1:14) she disappeared forever from the New Testament.
(Bushby, bl 33).
5. dat sonde alleen deur die pous en sy priesters vergewe mag word; dat
geen Protestantse predikant dit mag doen of daarmee kan help nie; dat die mens
sy sonde aan die Roomse priester moet bely en dat dit sal help as hy
"boete doen" soos deur daardie priester voorgeskryf, bv. om twintig
gebede op te sê, of om op sy knieë die heilige trappe (die Scala Sancta) te
bestyg of iets dergeliks; of dat sonde deur die koop van "aflaatbriewe"
vergewe of "afgekoop" kan word.
Dit was daardie leerstelling van die Katolisisme wat direk aanleiding
gegee het tot die Kerkhervorming aangesien dit die grootste rede vir Luther se
opstand was. Sy vyf en negentig
stellinge het hoofsaaklik oor aflaatbriewe en die vergewing van sonde
gehandel. Daarteenoor gaan Protestante in
geloof direk na hul Verlosser vir vergifnis en glo hulle nie aan boetedoening
en die betaling van geld vir vergifnis nie aangesien hulle glo dat hulle
Verlosser, Jesus, reeds daardie prys aan die kruis betaal het. Ander Westerlinge verwerp ook daardie konsep
van sonde en het geen behoefte daaraan nie.
Dit word later hierin bespreek;
6. dat daar selfs vir hulle wat reeds dood is, gebid kan word of
aflaatbriewe gekoop kan word sodat daardie dooies se sonde vergewe mag word en
dat skenkings aan die Roomse Kerk sal bydra om sulke gestorwenes se dae in die
"vae vuur" te verkort en om die dag te verhaas dat hulle na die
paradys sal oorgaan.
7. dat daar iewers 'n "vae vuur" is. Die Rooms Katolisisme is die enigste
"kerk" wat daaraan glo terwyl dit deur die res van die wêreld verwerp
word. Protestante glo nie aan die
"vae vuur" waar sondaars se siele met vuur gereinig word nie en miljoene
ander Westerlinge verwerp die gedagte dat daar 'n hel is en steur hulle hul
glad nie daaraan nie. Hierdie
leerstellings van "vae vure" en die "ewig brandende hel" word
beskou as maar net nog voëlverskrikkers te wees wat die heilige manne opgerig
het, saamgeflans om mense bang te maak en om hulle soos vee in hul kraal te
jaag. Dat hierdie soort teologie bloot net bangmaakstories is, het reeds wyd
posgevat;
8. dat die Vatikaanse biblioteek in Rome al die bewyse vir hul aardse gesag
bevat, opgeteken in miljoene dokumente wat kwansuis deur die apostels,
dissipels en ander heiliges geskryf is en wat, volgens hulle, die Rooms Katolieke
Kerk die reg gegee het vir die vergrype wat hulle gepleeg het. Ons is deur die werk van honderde studente
wat in daardie biblioteek navorsing gedoen het, oortuig dat baie van daardie
dokumente die grofste vervalsings en bedrog is en daarom word die grootste deel
daarvan deur ons verwerp. Calvyn spreek
hierdie probleem verskeie kere in sy Institusie aan:
Sodat hul uitsprake meer gesag mag
verkry het, het hulle valslik die name van vroeë pouse by hul dokumente
aangebring asof sulke sake van die begin af so verstaan is; terwyl dit
doodseker is dat enige eienskappe meer as wat ons reeds gesien het hy vanaf die
antieke konsilies ontvang het, nuut en onlangs saamgestel is.
(En dan noem hy voorbeelde van sulke vervalsings).
(boek iv, paragraaf 20, vry vertaal).
(7)
9. dat almal wat van die Rooms Katolieke Kerk verskil, ketters is en
verder, dat die Rooms Katolieke Kerk die reg het om daardie persone deur
marteling van hul sonde te "reinig", selfs tot die dood toe. In Europa is miljoene van ons bloedverwante
volksgenote uitgewis deur die inkwisisie en in die sogenaamde "heilige
oorloë" van die pousdom teen volke wat kwansuis in kettery verval het, en toe
weer ná die Kerkhervorming toe die Hugenote vervolg en doodgemaak is, wat
veroorsaak het dat hulle vir oorlewing die hele wêreld ingevlug, ook na Suid‑Afrika. Ons glo nie in marteling as 'n reinigingsmetode
nie – dit was die mees verwerplike van alle Christelike optredes wat ooit in
die naam van die God van liefde gepleeg is. Dit word toegegee dat daardie
spesifieke metode nie in ons dag gebruik word nie, maar mense wat in ons tyd tot
ander insigte kom en dan verskil van hul kerkgenootskap, word steeds op
verskeie manier vervolg en uit hul gemeentes verjaag.
10. dat die Roomse Kerk baie relieke in sy besit het. Hulle beweer byvoorbeeld dat hulle in besit
is van stukkies van die "ware kruis" waaraan Jesus kwansuis sou
gehang het, van 'n houertjie met 'n paar druppels van die "ware"
bloed van Jesus, 'n doek wat Maria op Golgota tydens die kruisgebeure laat val
het, 'n stukkie van die "werklike doringkroon" wat Jesus gedra het,
dertien, ja dertien voorhuide van Jesus en net soveel naelstringe wat Jesus aan
Maria sou verbind het ‑ nageboorte en al ‑ steeds behoue en bewaar!, en vele
ander sulke "heilige" relieke (sien bv. National Geographic,
Desember 1983, bl.740 en 741). So bewaar
hulle ook die geraamtes van tiene van duisende martelare en vergete priesters
en ontelbare "heiliges", alles opgegaar in die katakombes onder Rome
en in verskeie kloosters en in tientalle kerke geberg. Daar is ook die beroemde en veelbesproke doek
waarin Jesus se liggaam kwansuis toegedraai was nadat dit van die kruis
afgehaal is, nl. "the Shroud of Turin". Baie van ons weet daarvan ‑ dit is 'n lap
waarop daar 'n geheimsinnige afdruk van 'n
man soos 'n negatief uitgebeeld word.
Die gesaghebbende National Geographic Society verklaar die volgende
daaroor:
An improved method of radiocarbon
dating was the key to the discovery that the Shroud of Turin (Nat. Geog.,
June 1980) dates from medieval times and could not be Christ’s burial
cloth. The new method is faster and
requires smaller samples of material than older techniques... Three
laboratories received a snippet of linen from the shroud... ('n toets is gedoen en... ) From their ratio came the fabrics age:
The 14-foot linen strip was woven from flax harvested in the late 13th
or early 14th century...
(National
Geographic, Februarie 1989, bl
136).
Buitendien is Bybelse en
argeologiese getuienis nie in harmonie met dit wat die Turynse kleed voorstel
nie. Die argeologie leer ons dat liggame
in daardie tye met verbande toegedraai is en nie met een groot stuk lap
nie. Die Bybel het dit ook anders as wat
deur hierdie kleed voorgestel word:
En op die
eerste dag van die week kom Maria Magdaglena vroeg... by die graf... Toe gaan
Petrus en die ander dissipel uit en kom by die graf... En terwyl hy neerbuk,
sien hy die doeke (meervoud) lê; ...
en die doek wat op sy hoof was, sien hy nie by die doeke lê nie, maar opgerol (suggestief van 'n verband wat opgerol word
in plaas van opgevou word) op een plek afsonderlik... (Joh. 20:1 tot 7)
Daar was dus verskillende
stukke lap en die stuk wat Jesus se kop toegemaak het, het eenkant opgerol, nie
opgevou, gelê. Die Turynse kleed is een
stuk ... dit klop nie.
Breëre Protestantisme en
miljoene ander Westerlinge glo dus glad nie dat daardie kleed 'n egte bewysstuk is nie en dit word hiermee
verwerp saam met die voorhuide en naelstringe wat Katolieke as eg aan ons
voorhou. 'n Oorgrote deel van die
Protestantisme heg geen waarde aan sulke dinge nie aangesien hulle oortuig is
dat daardie goed meestal vervalsings is en daarom bedrieglik is, dit na
aanleiding van Calvyn (sien Institusie).
11. dat hulle die mag
besit om die Tien Gebooie te verander.
Hieronder word die Bybelse en Roomse weergawes daarvan teenoor mekaar
opgestel:
PROTESTANTISME
|
ROOMS-KATOLISISME
|
|
1
|
Jy mag geen ander gode voor my
aangesig hê nie.
|
Jy mag geen ander gode voor my
aangesig hê nie.
|
2
|
Jy mag vir jou geen gesnede beeld
of
enige gelykenis maak van wat bo in
die hemel is of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder
die aarde is nie.
|
Jy mag die Naam van die Here jou
God nie ydelik gebruik nie.
|
3
|
Jy mag die Naam van die Here jou
God nie ydelik gebruik nie . . .
|
Gedenk die sabbatdag dat jy dit
heilig
. . .
|
4
|
Gedenk die sabbatdag dat jy dit
heilig . . .
|
Eer jou vader en jou moeder . . .
|
5
|
Eer jou vader en jou moeder . . .
|
Jy mag nie doodslaan nie . . .
|
6
|
Jy mag nie doodslaan nie . . .
|
Jy mag nie egbreuk nie . . .
|
7
|
Jy mag nie egbreuk nie . . .
|
Jy mag nie steel nie . . .
|
8
|
Jy mag nie steel nie . . .
|
Jy mag geen valse getuienis teen
jou
naaste spreek nie.
|
9
|
Jy mag geen valse getuienis teen
jou naaste spreek nie.
|
Jy mag nie jou naaste se vrou
begeer
nie.
|
10
|
Jy mag nie jou naaste se huis
begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy
diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.
|
Jy mag nie jou naaste se huis
begeer
nie; of sy dienskneg of sy
diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.
|
(Volgens Eksodus 20 en
die "Catholic Catechism", of "Katolieke
Katkisasieboek").
Let wel: vir Protestante
en ander Westerlinge is die verandering aan die tweede gebod 'n kritieke
verandering, nl. dat die pousdom daardie gebod heeltemal weggelaat het. Die rede daarvoor is ooglopend – hul tradisie
dra meer gesag as die Bybel, sê hulle.
En hulle wil al die Maria- en Jesus-beelde in hul kerke hê, dus kan dit
nie deur die een of ander gebod vebied word nie.
Elke kerkgenootskap met
sy verskille van die ander word, benewens 'n Christelike sekte (alle kerkgenootskappe
word deur die RKK as 'n sekte beskou aangesien hulle van die RKK weggebreek
het) ook 'n "kulturele sekte".
Rooms Katolisisme is 'n "kultuur", 'n manier van lewe, 'n lewenstyl. Hulle buig wanneer hulle die kerk ingaan,
maak die teken van die kruis oor hulle, het beelde van Maria, Jesus en ander
"heiliges" in hul huis een kerke, hul nagmaal is heel anders, hulle
glo aan die selibaatleer, ens. Op Vrydae
is hulle veronderstel om net vis te eet.
Hulle het 'n swetterjoel heilige dae.
Om 'n Rooms Katoliek te wees, is om deel te wees van 'n ander
"kultuur" (so ook met sommige van die Protestantse sektes wat ook
"kulture" geword het. Die
gewone gereformeerde persoon sal swaar kry as hy hom skielik in die Ou Apostel
Kerk bevind, of in die Jehova se Getuies se Kingdom Hall, of tussen die Sewendedag-Adventiste
is, selfs in die charismatiese kerke waar die doping van die Gees vir hom baie
vreemd is).
Elke "sekte"
weet dat hy anders is en hou dit ook so, want dan is dit byna onmoontlik om
daardie spesifieke genootskap te verlaat.
Iemand wat sy lewe lank in 'n spesifieke "sekte" was, sal
moeilik in die lewe aanpas daarsonder.
Daardie beginsel word
teen die Westerling ingespan. Ons is in
honderde sektetjies gefragmenteer en elke groepie is "anders". Dit hou ons verdeeld sodat ons mekaar nie oor
daardie verskille heen kan vind nie.
(Dan praat ons nog nie van die politieke verdeeldheid nie. Meer hieroor
in hoofstuk 6).
Benewens die veranderinge
aan die Tien Gebooie, is daar ook aan die betekenis van die gebooie gepeuter en
omdat hierdie boek nie 'n studie oor die Rooms Katolisisme is nie, gaan ons net
kortliks daarna verwys.
In die Katolieke
Kategismus stel hulle dit duidelik in die bespreking van die eerste gebod dat
"die doel die middel heilig" en enige iets wat hulle doen, as dit met
'n "goeie bedoeling" is, maak dat hul hemelse beloning soveel groter
sal wees. Dus - as iemand wat as 'n ketter
gebrandmerk is, doodgemaak word, maak dit nie saak nie want "die doel
heilig die middel". Dan word
daardie moord 'n "goeie daad", nee, 'n heilige daad. Protestantisme het daardie filosofie ernstig
bevraagteken aangesien dit met daardie einste redenasie was waarmee ons mense in
Europa op die brandstapels beland het.
Maar dit is niks - hulle
leer ook onder daardie eerste gebod dat die heiliges en enige relieke ook saam
met God vereer moet word.
"The
saints are in a special way the friends of God".
(bl. 313)
Daar is geen
"saint" wat heiliger is as enige iemand anders wat 'n verhouding met
hul God handhaaf nie en Protestante en miljoene ander Westerlinge ontken
daardie leer ten sterkste.
Die leser kan gerus
hierby onthou dat die Katolieke graag aan Maria 'n status wil toeskryf wat sy
werklik nie gehad het nie en wat sy nie verdien nie, en daarom word hul interpretasie
van hierdie gebod so verdraai. Maar dat
die verering van stukkies hout en die verdroogde vingers of kopbene van
gestorwe priesters vanuit vergane eeue vergelyk word met die eer wat aan die
Skepper verskuldig is, is skreiend en verwerplik.
Daar is nog iets wat vir
die Protestantisme en ander Westerlinge totaal onaanvaarbaar is en dit is dat
daar tot die dooie heiliges gebid kan word en dat hulle gevra kan word om
namens ons by God "in te tree ... "
"We honour the saints by
celebrating their memory and by asking them to pray to God for us". (bl. 314)
Ag nee wat. Om in die paashaas te glo, is die volgende
stap... O, ekskuus, ek’t vergeet, baie van ons glo in die paashaas.
Katolisisme se derde
gebod is die Bybel se vierde gebod, naamlik die een oor die rusdag.
Om weer Tien Gebooie te
hê, verdeel hulle Eksodus se tiende gebod in twee en verkry daarmee dus 'n negende
gebod: "Jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie" en 'n tiende
een ook: "Jy mag nie jou naaste se goed begeer nie". Dit alles is vir hierdie skrywer niks minder
as teologiese bedrog nie. (sien: A Catholic Catechism, deel: The Ten
Commandments, bl. 300 tot 396).
Hierdie
"leerstellings" van die Katolisisme is waardelose bygeloof,
spekulasie in die plek van feite, mites in die plek van sekerhede, leuens in
die plek van waarheid en dit bring ons by wat miskien die belangrikste kenmerk
van die Katolisme was (en dalk nog is) .
12. dat die "soeke na kennis" nie aangemoedig
word nie. Dit is 'n ernstige klag, ook
teen talle Protestantse genootskappe en predikante. Die gevolg van daardie beleid het Europa vir
langer as 'n duisend jaar in geestelike en intellektuele duisternis gehul:
Galileo, as everyone knows, was
condemned by the Inquisition, first privately in 1616, and then publicly in
1633 (net voor Van Riebeeck in Suid-Afrika aangekom het), on which latter occasion he recanted,
and promised never again to maintain that the earth rotates or revolves. The Inquisition was successful in putting an
end to science in Italy, which did not revive there for centuries. But it failed to prevent men of science from
adopting the heliocentric (die son in die middel van die heelal-teorie) theory, and did considerable damage to
the church by its stupidity. Fortunately
there were Protestant countries, where the clergy, however anxious to do
harm to science, were unable to gain control of the State.
(History
of Western Philosophy, bl.
520). (Klem en kommentaar bygevoeg).
Dit is oor al hierdie en
nog meer beleidsrigtings van die Katolisisme dat ons Hugenote voorouers uit
Europa gevlug het - oor die Inkwisisie en die vervolging en die onhoudbare haat
wat Europa oorspoel het. Indien hulle
nie geglo het in hierdie bogenoemde standpunte van die Roomse Kerk nie, is
hulle deur die Inkwisisie vervolg en doodgemaak. Hulle is in sulke groot getalle doodgemaak
dat ons mense gevrees het dat niemand sou oorleef nie. Daardie vervolging was 'n afwaarts draaiende
maalkolk na kranksinnigheid.
Met al daardie moord en
dood wat deur die Inkwisisie uitgestort is, is nog 'n voëlverskrikker deur die
heilige manne van ouds opgerig.
VRYHEID VAN DENKE
Elkeen mag homself vra op
grond waarvan Protestante anders mag dink as dit wat die pousdom beweer die enigste "waarheid" is.
Indien u nie 'n Rooms
Katoliek is nie, watter reg het u om dan aan u kerkgenootskap te behoort? Watter
reg het hierdie skrywer om te dink soos hy dink? Watter reg het u om vir uself
te dink?
Kan u dit verdedig?
Die reg tot eie denke word
verkry as byproduk nadat twee van die geskiedenis se grootste opskuddings hul
in Europa afgespeel het, naamlik die Kerkhervorming en die ontdekkings van
Galileo.
PARADIGMAVERSKUIWINGS
Huidig word talle paradigmas deur allerhande druk verander. Skooluniforms raak in onguns, om tydens
skooltyd te rook word nie meer gestraf nie en baie leerlinge gaan gewapend
skool toe. Gehoorsaamheid en respek vir
die reëls waarmee vorige geslagte opgevoed is, word deesdae op skoolterreine
vergeet en selfs teëgestaan ‑ deur die leerlinge! ‑ om van dissipline nie eens
te praat nie. Dissipline was vroeër 'n "gawe
van God" ‑ nou is dit "van die duiwel".
Soos skole het kerkgenootskappe ook hul eie paradigmas of denkraamwerke
waarbinne hulle noodwendig moet bly.
Indien hul lidmate daarbuite beweeg, word hulle beskou as
"afvallig" van die kerkorde wat hulle aangeneem het. Die gereformeerde predikant wat hom laat
grootdoop, beweeg buite die kerklike paradigmas wat deur sy kerkgenootskap vir
hom daargestel is en sal hy onder sensuur geplaas word, sy fout moet bely of geskors
word uit sy gemeente en kerkgenootskap.
Wanneer gereformeerdes en andere van gedagte verander oor die sabbat of
oor die "doping van die Heilige Gees" en "tale", of die
gebruik die naam "Jehova", word so 'n verandering as 'n
paradigmaverskuiwing beskou, 'n denkraamwerk wat verskuif het.
Wat verskuif die paradigmas van ons denke?
Dit is gewoonlik aan nuwe inligting toe te skryf, vanuit die wetenskap,
wiskunde en enige ander feite. Niks
anders as feite, of die waarheid, behoort ons denke of persepsies te wysig of
te verander nie.
Hierdie persepsieveranderings kan op elke vlak in die lewe gebeur, in die
politiek, die teologie (kerke), in die sakesektor, ens., maar ook by die
persoon, by u en my.
Op die Suid‑Afrikaanse politieke terrein het daar interessante
paradigmaverskuiwings plaasgevind. Die
politieke toneel in Suid‑Afrika is eenvoudig deur die kulturele andersheid van
die meerderheid in Suid‑Afrika verander.
Die swart meerderheid beskou die lewe so anders as die Noord‑Europese,
Westerse minderheid, dat die gevestigde reëls en wêreldbeskouing noodwendig
moes padgee voor daardie opkomende massa.
Vroeër is die ANC beskou as 'n vyand, 'n terreurorganisasie. Dit was verban en gehaat. Teen die einde van P.W. Botha se bewind was
hulle "nie meer só sleg nie" en onder F.W. de Klerk het ons
verwysingsraamwerk rakende daardie organisasie só verskuif dat die voormalige
terroriste "helde" geword het.
Die eertydse bomplanters wat as terroriste beskou is, het toe
"vryheidsvegters" geword en later het daardie dade wat as verfoeilik
bestempel was, verander in heldedade.
Daar was tydens die De Klerk‑bewind genoeg druk om die burgery se opinie
so te verander, dat hulle uiteindelik die hele Suid‑Afrika aan die ANC oorgegee
het.
Dit is 'n kritieke voorbeeld van paradigmas wat ten doel van 'n vooropgestelde
plan verander is ‑ maar daardie veranderinge het nie noodwendig gespruit weens
nuwe waarheid nie. Inteendeel, skrywer
stel dit dat daardie totale oorgawe met leuens gedryf was.
Maar dit is nie die doel van hierdie skrywe om die Suid-Afrikaanse politiek
te ontleed nie, en daarom staan ons van die onderwerp af sodat ons ons aandag
kan vestig op die kern van hierdie studie. .
Nr. 1 - DIE EERSTE GROOT PARADIGMAVERSKUIWING - ONTSTAAN BINNE DIE
KERK MET LUTHER
Dit is die paradigmas van
die Christendom, Rooms sowel as
Protestants, wat hier bekyk word.
Dit is reeds gestel dat
die RKK die gees van die mens in gevangenskap gehou het en dat dit so streng
was dat miljoene mense deur die Inkwisisie na hul dood gestuur is, sou hulle
van ander gedagtes gewees het as die pousdom.
Europa was vir al daardie
eeue lank in 'n spreekwoordelike gevangenis van vrees.
Maar dit het een monnik, 'n
doktor in die teologie, nie afgeskrik nie.
Luther se verhaal is goed gedokumenteer en kan geredelik nagevors word.
Die Duitse volk is
finansieel uitgemergel deur die verkoop van "aflaatbriewe" (briewe
wat vergifnis van sonde gewaarborg het) wat ene Tetzel oral in die land gesmous
het. Die opbrengste daarvan is na Rome
geneem en toe Luther sy besoek aan Rome gebring het, het hy gesien hoe sy volk
se geld die magtige Vatikaanstad gebou het en hoe dit al die biskoppe,
kardinale en die pous in absolute weelde laat leef het.
Luther was geskok en sielsongelukkig
daaroor.
Daar word vertel dat hy
op die Heilige Trap, die sogenaamde Scala Sancta, waar hy 'n bedevaart
onderneem het, skielik 'n sekere Bybelvers onthou het:
...die regverdige sal uit die geloof lewe... (Rom. 1:16)
Op daardie oomblik het hy
begryp dat vergifnis nie met geld, goeie werke of boetedoening van God gekoop kon
word nie, en ook dat sonde nie deur die priesters vergewe kon word nie, en daar,
op daardie sogenaamde Heilige Trap is die Kerkhervorming gebore.
Luther is terug na
Duitsland waar hy aan sy vyf en negentig stellinge begin werk het. Op 31 Oktober 1517 is dit aan die kerkdeur te
Wittenberg vasgespyker. Die stellinge
het hoofsaaklik oor vergifnis van sonde gehandel, die valsheid van die verkoop
van aflate en die verkeerde interpretasie dat mense sondevergifnis kan
bewerkstellig. Vir daardie tyd was dit 'n
skokkende dokument en die hele Duitsland was in rep en roer. Dit is onmiddellik van Latyn na Duits vertaal
en is versprei deur die hele land en gou na die res van Europa.
In Rome het die
Inkwisisie daarna gekyk en dit verbied.
Gou is Luther van die kerk afgesny, wat in Katolieke terme beteken dat
hy nie hemel toe kon gaan nie - iets wat uiteraard vir 'n Katoliek 'n ernstige
situasie is. Maar Luther het reeds
begryp dat mense niemand uit die hemel kon ban nie en hy het vreesloos sy
standpunte voor konings en adellikes, in die openbaar en in privaat, verdedig.
Die stryd was heet en sy
lewe was in gevaar. Die Kerk het vereis
dat hy sy "kettery" terugtrek, maar hy het gesê dat hulle uit die
Bybel moet wys waar hy verkeerd was. Dit
was by een so 'n vergadering waar hy na bewering die beroemde woorde geuiter
het: "Hier staan ek. Ek kan nie
anders nie. So help my God".
Luther is toe voëlvry
verklaar en sy moordenaar sou deur die Kerk geloof word.
Konings en prinse het aan
albei kante van die stryd stelling ingeneem sodat selfs oorlog gevolg het.
Die onverwagte bevryding
van die Europeër se denke was die grootste voordeel wat uit daardie daad van
Luther voortgespruit het en vir bykans vyf honderd jaar geniet u en ek steeds
daardie vryheid - as gevolg van die optrede van een man.
Dit was die eerste
uitdaging tot Roomse oorheersing. Die
kerklike paradigmas is vir ewig verskuif.
Nooit weer sou Europa die
interpretasies van die pouse en biskoppe moes glo nie. Nooit weer sou Bybeltekse sommer enige
mensgemaakte betekenis kon verkry nie.
Die Bybel is in Duits
vertaal en vir die eerste keer het kerklidmate self na die sogenaamde
"Woord van God" gekyk om te sien of dit wat die priesters verkondig,
daarmee in harmonie was. Nooit weer sou
ons gewete voor die Skepper deur mense voorgeskryf word nie.
Die gees van die
Westerling was bevry!
Weens daardie bevryding
wat by die Kerkhervorming verkry is, het die Renaissance oor Europa losgebars.
Skielik is tien duisende
uitvindings gemaak, meer in die eerste honderd jaar na Luther as in die totale
voorafgaande periode vanaf Jesus tot by Luther, sowat een duisend vier honderd
jaar.
"Beat that", sê
die Engelse.
diagram - trek 'n strepie - pouslike en kerklike gesag verbreek vir
vrye denke
Nr. 2 - DIE TWEEDE GROOT
PARADIGMA VERSKUIWING –
ONTSTAAN VANUIT DIE
WETENSKAP MET GALILEO EN COPERNICUS
2.1 - STERREKUNDE - Deel
l
Die Kerkhervorming kon
dalk gefaal het was dit nie vir twee ander baie belangrike nuwe wetenskaplike
en filosofiese insigte wat feitlik gelyktydig met Luther se kerklike insigte
gepaard gegaan het nie.
Die uitvinding van die
drukpers gedurende die vyftiende eeu en die werk van Copernicus (1473 - 1543)
oor die sterreruim het Luther (1483 - 1546) kort voorafgegaan.
Copernicus se werk wat
alreeds die primitiewe wetenskaplike sirkels van die Middel-eeue geskud het,
word toe in daardie jare deur die werk van Galileo (1564 - 1642) bevestig. Die RKK het sy hande vol gehad met
"groot" sake in daardie tyd.
Die kerklike paradigma,
wat oor eeue heen onaangetas bly staan het, was dat die Bybel op sy woord
geneem moet word en glad nie bevraagteken mag word nie en boonop mag
"kerklike gesag" ook nie bevraagteken word nie. As die Bybel 'n saak op 'n sekere manier
uitgedruk het, is dit as absoluut korrek aanvaar en is dit van almal verwag om
dit so te beskou, al is dit nie bewys
nie. Nadat die kerk 'n standpunt
ingeneem het, het die pous en die priesters niemand toegelaat om dit te
bevraagteken nie. Die "kerk"
het gepraat en was dit gesaghebbend. Dit
was met hierdie laaste standpunt van die Katolisisme wat Huss, Galileo,
Copernicus, Luther en die ander "denkers" in botsing gekom het, nl.
die gesag van die pousdom.
Galileo was 'n
wetenskaplike en wiskundige en hy het 'n nuwe uitvinding, die teleskoop, geneem
en die sterre daarmee waargeneem. Hy was
die eerste persoon wat die berge op die maan gesien het. Die beweging van die planete wat hy bespeur
het, was sy grootste ontdekking aangesien die wêreld se enigste kerk in 'n
plat, stilstaande aarde geglo het wat ook die middelpunt van die heelal
beklee het, met 'n son wat letterlik om die aarde beweeg het. Daar was in Katolieke denke geen twyfel oor
die juistheid van hul geloof daaroor nie, want dit het uit die Bybel na hulle
gekom.
Maar die waarnemings van
Galileo het hom oortuig dat die aarde 'n sfeer was en dat dit saam met ander
planete in ons sonnestelsel om die son beweeg:
Maar die
"Heilig Officium van die Inquisisie" het sy stelsel verwerp as in
stryd met Josua 10: 12. Hy is verbied om
sy mening bekend te stel. Aan hierdie
verbod het hy hom egter nie gehou nie maar 'n Dialoog oor die stelsel
van Ptolomeus en Copernicus uitgegee (1632).
Die volgende jaar moes hy dit afsweer en is hy tot gevangenskap
veroordeel.
(Adam en Eva, bl. 12).
Alleen weens sy roem en
hoë ouderdom het hy 'n ketterdood vrygespring.
Die vonnis wat oor hom uitgespreek is, was dat hy vir die res van sy
lewe tot sy huis ingeperk sou wees en dat hy nie sy bevindinge mog publiseer
nie al is sy bevindinge wetenskaplik bewys as die waarheid.
Die skrifgeleerdes het
hom op grond van die Bybel belet om die waarheid te praat.
Na aanleiding van dit wat
ons reeds ingesien het wat die leer van EER betref, was dit onafwendbaar dat
skeiding tussen die waarheid van Galileo en die leuen van die pousdom sou
intree. Dit het nie daar om die interpretasie
van die heelal gegaan nie. Galileo en
Copernicus het die bewyse gehad en dit was onbetwisbare waarheid. Hul waarnemings word steeds as korrek beskou
en NASA gebruik hul werk in die moderne studie van die ruimte. Galileo het
natuurlik aangehou met die studie van die sterre en sy wiskunde is tot vandag
nog van die beste wat in die sterrekunde gebruik kan word, maar sy ketterskap
is eers teen die einde van die twintigste eeu deur die pous opgehef.
Galileo se gevolgtrekkings
was reg en die Rooms Katolieke Kerk was verkeerd, al was hul siening op die
Bybel gegrond.
Die Bybel sê op verskeie
plekke dat die aarde op "vaste fondamente" gevestig is en op 'n ander
plek word vertel van die son wat opgaan en ondergaan, asof die aarde sou stil
staan (Josua 10:12 en 13) en vir die Middeleeuse Katoliek het daardie woorde
net dit beteken - die aarde het fondamente, onder, en dit staan stil terwyl die
son daaroor opgaan en ondergaan en 'n mens kan met jou skip van die aarde af
seil en oor die kant daarvan na benede stort waar drake jou sou opvreet. So het hulle op grond van die Bybel geglo.
Galileo het ontdek dat
die werklikheid veel anders was as die kerklike standpunte en bygelowe van sy
tyd.
Daardie insig van hom en
Copernicus het 'n paradigmaverskuiwing in die teologie meegebring sodat daardie
tekste nooit weer daardie Roomse interpretasie sou kon onderskryf
nie. Skielik moes die "kerk"
die wetenskap antwoord en hoe meer getuienis ingestroom het, hoe stiller het
die "kerk" daaroor geraak totdat dekades en eeue verbygegaan het, die
storm daaroor gaan lê het en alles weer aangegaan het soos dit nog altyd was -
met die pous en die kerk steeds in beheer.
Daarom is die pouslike ban oor Galileo eers meer as vier honderd jaar ná
daardie gebeure opgehef.
Maar dit was net die
eerste groot hou wat vir wetenskaplike ondersoek, kennis en vrye denke geslaan
is. Voor Galileo is almal wat die
Katolisisme bevraagteken het, voor die Inkwisisie gedaag, gemartel en ter dood
veroordeel. Daarna sou die Inkwisisie 'n
tyd lank aan bande gelê word.
Die Renaissance was 'n
tyd van opbloei in Europa en die tyd wat as die "Donker Eeue" bekend
gestaan het, was aan die verbygaan en kennis het vermeerder.
Daar kan sonder twyfel
gesê word dat, toe die houvas van die Roomse Kerk op die gees van die mens by
Galileo en Luther gebreek is, dit direk aanleiding gegee het tot die
Renaissance en die Industriële Omwenteling.
Daardie bevryding van die menslike gees was verantwoordelik vir 'n ander
soort leierskap wat onder die mensdom ontstaan het, naamlik die leierskap van
helder denke, insluitende die inagneming van natuurwette, feite en bewese
wetenskap teenoor daardie denke wat oorspoel was van bygeloof, fantasie, tradisie,
mites en legendes soos dit vandag steeds in die Katolisisme gevind word.
Gesonde, redelike denke
het die mense se vrees vir die voëlverskikkers van die heilige manne se interpretasies
aan bande gelê.
Galileo het, sonder om
vooraf te weet dat dit sou gebeur, 'n reuse bevryding van die menslike gees
meegebring.
Voeg diagram 2 hier in.
SAMEVATTING
LUTHER
Dit kan dus gesien word dat die gedagtes van Luther die paradigmas van die
Rooms Katolieke Kerk se denke tot 'n baie groot mate verskuif het. Die
paradigma was:
- net een kerk moet bestaan,
nl. die Roomse Kerk. Ná Luther het
die Protestantse beweging ontstaan en toe is daar twee kerklike bewegings
en later het talle ander kerkgenootskappe ook ontstaan;
- net een leier van
die hele kerk, nl. die pous. Ná Luther kon enige bevoedgde, gekose persoon
die leier van 'n kerkgenootskap word;
- die Bybel is in
Latyn. Ná Luther is die Bybel vertaal in al die tale van die mensdom;
- die tradisies,
besluite van konsilies, geskrifte van kerkvaders en vroeë pouse was
gesaghebbend vir die reëling van die kerkorde en in die verlossingsproses.
Ná Luther was daar net een bron van gesag, die “sola scriptura” – die
alleengesag van die Bybel;
- die weg tot
vergifnis van sonde was deur die pous, via die priester, met behulp van
aflate, boetedoening, ens. Ná Luther is sondevergifnis 'n gratis geskenk
deur geloof en genade, sonder bemiddelling van pouse en priesters en is
die verkoop van aflate afgekeur en verbied;
- dat sonde teenoor 'n
mens, priester of pous, bely moet word alvorens dit vergewe kan word. Ná
Luther word sonde nie meer vir 'n mens vertel nie, maar vir God;
- om selibaat te bly,
maw, priesters, pouse, nonne en monnikke mag nie in die huwelik tree nie,
en mag geensins seksueel wees nie. Die seksuele sy van die mens se lewe
was beskou sondig en besoedelend van die siel te wees, met 'n gevolglike
verwydering van God en heiligheid. Ná Luther is predikante en kerklike
diensnemers aangemoedig om te trou en in 'n totale gesinsverband te leef.
Die seksuele is nie per se sonde nie en word beskou as normaal;
- dat mense tot die
status van heiligheid verhef kon word– sint Petrus, sint Patrick, sint
George, sint Joan of Arc, en pouse, priesters, nonne en vele ander is deur
pouslike gesag verklaar tot heilige, oftewel “saint”. Ná Luther is daar
nie so iets nie. Geen mens kan tot daardie status verhef word nie en dit
is nie 'n legitieme (wettige) instelling nie;
- dat die oorskot van
gestorwe priesters en kerkvaders en ander persoonlikhede as “relieke”
beskou word, soos ook 'n tamaai versameling vingers, druppels bloed van
Jesus, stukkies van die oorspronklik kruishout en doringkroon, lappe,
haarlokke ens., dus “heilige oorblyfsels” is wat vereer moet word en dat
dit goed is wat pelgrims van regoor die wêreld moet sien, en toegang
daartoe moet betaal. Ná Luther word geen waarde aan sulke goed geheg nie;
- dat die Roomse “mis”
(mass) die enigste wettige vorm van die nagmaal is, wanneer 'n priester
die brood en wyn deur 'n wonderwerk verander in die regte vlees en bloed
van Jesus met die die betekenis dat Jesus weer oor en oor sterf vir die
sonde van die wêreld. Ná Luther is die wyn en brood bloot simbole wat
gemeentelede herinner aan die kruis wat eenmalig vir sonde gesterf het;
- dat al die togas
(cassocks), septers, wierook en seremonies en liturgie, tekens van die
kruis en beelde van heiliges nodig is vir “verlossing”. Ná Luther het
daardie dinge waardeloos geraak en is hulle beskou as on-Bybels te wees en
onnodig;
- dat die pous in die
kerklike lewe uitsluitsel gee oor alle sake, en dat sy gesag op alle
gebiede deurslaggewend sou wees, en dat mense wat van hom en die kerk
verskil, bestempel word as ketters, wat deur vervolging, marteling en
selfs die dood, gereinig kan word van hul sogenaamde “sonde” en
“teruggevallenheid”. Met die koms van Luther verkry kerklidmate meer
vryheid om vrae te vra en om self oor kerksake te dink. Die verklaring van
iemand tot ketter, die gevolglike vervolging en marteling van so 'n
persoon, bestaan byna nie onder Protestantisme nie.
Dit is duidelik dat die middeleeuse kerk, die Roomse kerk, se verwysingsraamwerk
(paradigmas) tot groot mate verskuif is deur die werk van Luther en die ander
hervormers.
En die wetenskaplike ontdekkings van die sestiende eeu het ook daardie
grense van denke verander.
GALILEO EN COPERNICUS
Galileo en Copernicus se werk het die Rooms Katolieke Kerk se begrip oor die
ruimte, die sterrekunde, aardrykskunde en ander wetenskappe 'n baie groot mate verskuif,
inteendeel, die totale middeleeuse wêreldbeskouing is omvergegooi en verander.
Die paradigma was dat -
- die aarde op sy vaste
fondamente gegrondves is, dat dit plat is en dat mens van die kant daarvan
kan afval na benede. Ná Galileo en
Copenicus het die mense besef dat die aarde 'n sfeer is wat in die ruimte
hang. Dit was toe dat seevaarders
om die aarde geseil het en die sogenaamde nuwe ontdekkings van die Amerikas
gemaak het;
- die aarde die
middelpunt van die heelal is en dat alles daar om draai, ook die son, want
die Bybel sê “die son gaan op en gaan onder”. Na die sestiende eeu het die
mens geweet dat die son die middelpunt van ons sonnestelsel is, en dat die
aarde om die son beweeg, en dat ons sonnestelsel nie in die middel van die
ruimte is nie. Daardie begrippe is
belangrike stappe tot die eerste ruimtereise in die vorige eeu.
Die vermeerdering van kennis is inderdaad wonderlik en dit bring ingrypende
veranderinge aan ons denke mee. Siekte
is nie meer die gevolg van die besetenheid deur duiwels en bose geeste nie, maar
die gevolg van mikrobes in die lug en in water, ens. Epilepsie word nie veroorsaak deur inwonende
duiwels nie, maar is die gevolg van 'n chemiese wanbalans in die brein - eers
is sulke mense doodgemaak uit vrees vir daardie inwonende duiwels, vandag word
hulle medies behandel.
Kennis (feite, waarheid) het die ou paradigmas verskuif. Die mens se grense van denke is verander as
gevolg van die ontdekkings en verduidelikings van Luther, Galileo en
Copernicus.
Luther se werk het die Kerkhervorming ontketen en dit het vir ons mense
(witmense uit Noord-Europa) 'n groot mate van fisiese en geestelike vryheid meegebring.
Galileo en Copernicus se werk ontketen die wetenskaplike rewolusie wat weer
aanleiding gee tot die industriële rewolusie wat al die wonderlike tegnologiese
uitvindings meebring wat ons vandag geniet.
En toe steek die Westerse wêreld vas. Daar stop die ontdekkings. Daarna word geen verdere vordering gemaak nie.
En niks anders wat oor die afgelope vier
honderd jaar kon iets verander aan Kerk, Bybel of teologie nie, reg?
Nee, dis nie reg nie, geagte leser. Baie het intussen plaasgevind, maar dit
het nie die ore van die gemeentelede bereik nie. Hoofstuk 6 sal meer daarvan
vertel. Sommige mense sal dink dat hoofstuk 6 hierop moet volg, en dit sou dalk
logies klink, maar skrywer gaan eers die gevolgtrekking waartoe hy gekom het in
hoofstuk 5 behandel en dan, daarna, terugkeer na die paradigmaverskuiwings wat
plaasgevind het en wat hom tot daardie gevolgtrekking gelei het wat as die
eerste tesis in hierdie boek aangebied word.
INTERESSANTE PARADIGMA OOK IN SUID-AFRIKA EN ELDERS
Hier in ons land, onder die Calviniste, was daar eens 'n paradigma wat
vandag vir ons uiters vreemd sal klink.
Dit word aangehaal sodat die leser kan begryp dat hierdie dinge nie net
in ander lande plaasgevind het nie ‑ nie net ver oor die see en ook nie net in
antieke tye nie, maar hier, onder ons eie mense, in ons eie kerke.
Die gedeelte hieronder handel oor onderwys aan die Kaap en toon hoe die
kerk die gees van ons mense "gebind" het:
Ter bestryding van die Rooms‑Katolisisme
was dit nodig om ernstige aandag aan die onderwys te gee, en reeds van 1572
word die Papistiese onderwys beveg. Die
onderwys was vir die Calviniste een van die vernaamste middele om die nuwe
geloof geleentheid te bied om pos te vat en stand te hou teen die Rooms‑Katolisisme;
trouens, by die Protestante word daar geen skeiding tussen kerk en skool gemaak
nie. Daar word laer‑ en hoër skole
gestig, waarin alleen meesters wat deur die predikant geëksamineer is (let op hierdie feit) en bevredigende
bewys van regsinnigheid gelewer het, toegelaat word. Van pedagogiese beginsels en 'n metodiese
verdeling van die leerstof is daar niks te bespeur nie. In die laer skool is die Kategismus die
vernaamste vak, die Twaalf Artikels, die Tien Gebooie en die Onse Vader moet
geken word...
Die sogenaamde Protestantse beginsels in die bostaande paragraaf klink byna
asof hulle deur die Rooms Katolieke Kerk uitgedink is aangesien dit 'n presiese
spieëlbeeld van daardie stelsel is. Die
Katolisisme het geen onderskeid tussen kerk en skool getref nie en so het die Protestante
dan meegedoen en was hul leerplan soortgelyk.
Skrywer dink dit is lofwaardig dat daar vroeg reeds op opvoedkundige
gebied, teen die Katolisisme opgetree is, maar die gereformeerdes het ook hul
eie swakhede met hulle saamgedra. Die
volgende sin van die bostaande paragraaf dui daarop:
In die hoër skool mag die wetenskap
bestudeer word, mits dit die leerstellings van die Calvinisme nie weerspreek
nie.
(Geskiedenis van Suid‑Afrika, deel 2, bl. 576, A.J.A. van der Walt,
M.A., D.Phil., redakteur, Nasionale Boekhandel Bpk, 1955).
Daardie houding is net so verkeerd as dié van die pous toe hy met die
ontdekkings wat deur Galileo gedoen is, gekonfronteer is. Calvyn en die Calvinisme was en is net so
onverdraagsaam en verkeerd soos die Inkwisisie (sien Woordelys). Calvyn het hom verskeie kere rakende sy
teëstanders tot die brandstapel gewend wat net so skokkend is as enige iets wat
die Katolisisme ooit aangevang het.
Dus - die stelling in die betrokke aanhaling hierbo (van prof. Van der
Walt) is filosofies en ook moreel verkeerd.
Dit is filosofies verkeerd want dit sê die wetenskap mag nie in botsing met
die "Calvinisme" wees nie.
Wel, die Calvinisme is 'n mensgemaakte beweging wat spreekwoordelik nou
die dag eers op die toneel verskyn het.
Dit is nie méér reg as die Natuurwette wat so oud is as die heelal en
die aarde nie. Dit is onsin.
Moreel is dit ook verkeerd aangesien dit die soeke na kennis belemmer en
teëstaan. Geen mens mag daardie soeke na
begrip belet of verbied nie. Dit is
eerder "sonde". Kennis en die
soeke daarna is heilig, of ten minste 'n heilige taak.
Hierdie skrywer het nie die Bybel nodig om daardie standpunt mee te
verdedig nie, maar vir hulle wat twyfel, sal ek hierdie teksvers voorhou:
Die hart van die
verstandige verwerf kennis, en die oor van die wyse soek na kennis.
(Spr.18:15)
Koop waarheid en
verkoop dit nie, ook wysheid en tug en verstand. (Spreuke 23:23)
Die Amerikaners is in hul beginjare met dieselfde soort vrae
gekonfronteer. Dieselfde gees het van
Europa na daardie vasteland oorgewaai en die groot denker, Thomas Jefferson,
moes ook op 'n dag hierdie oorheersing van die wetenskap deur die godsdiens
aanspreek:
I
am really mortified to be told that, in the United States of America, a fact
like this (the publication of a scientific work) can become a subject of inquiry, and of criminal inquiry
too, as an offence against religion; that a question about the sale of a book
can be carried before the civil magistrate.
Is this then our freedom of religion? and are we to have a censor whose
imprimatur shall say what books may be sold, and what we may buy? And who is thus to dogmatize religious
opinions for our citizens? Whose foot is
to be the measure to which ours are to be cut or stretched? Is a priest to be our inquisitor, or shall a
layman, simple as ourselves, set up his reason as the rule for what we are to
read, and what we must believe? It is an
insult to our citizens to question whether they are rational beings or not, and
blasphemy against religion to suppose it cannot stand the test of truth and
reason. If M. De Becourt's book be false
in its facts, disprove them; if false in its reasoning, refute it. But, for God's sake, let us freely hear both
sides if we choose... .
I
have just been reading the new constitution of Spain. One of its fundamental bases is expressed in
these words: "The Roman Catholic religion, the only true one, is, and
always will be, that of the Spanish nation.
The government protects it by wise and just laws, and prohibits the exercise
of any other whatever." Now I wish
this presented to those who question what you may sell, or we may buy, with the
request to strike out the words, "Roman Catholic", and to insert the
denomination of their own religion. This
would ascertain the code of dogmas which each wishes should domineer over the
opinions of all others, and be taken, like the Spanish religion, under the
"protection of wise and just laws".
It would show to what they wish to reduce the liberty for which one
generation has sacrificed life and happiness.
It would present our boasted freedom of religion as a thing of theory
only, and not of practice.
(Jefferson, Magnificent Populist, Bl 324)
Die kerk domineer die denke van die mens... en dit is 'n groot onderwerp. Elkeen
wat regtig wil verstaan wat in die kerkewereld aangaan, moet Loraine Boettner
se Roman Catholocism lees, want dit handel oor lewensbelangrike
onderwerpe.
VRAAG VIR EEN-EN-TWINTIGSTE EEU
Wanneer ons terugkyk in die geskiedenis, is daardie gebeure in die tyd van Luther,
Galileo en Copernicus, uiters interessant. Ons dink hulle was baie braaf met
hul uitlatings wat sulke opskuddings veroorsaak het. Ons dink Luther was 'n
ware held om teen die totale bekende kerk op te staan en sy standpunt
man-alleen so te stel, dat hy die stryd nie opgesê het ten spyte daarvan dat hy
voëlvry verklaar was nie, en dat toe boonop die Bybel in Duits vertaal het wat ook
heeltemal teen Roomse denke was.
Ons kan tereg vra wat in die kerkewêreld gebeur het ná die Kerkhervorming. Word geen nuwe kennis, waarhede en feite na
vore gebring wat 'n effek op die Kerk het nie? Word geen ander kerklike paradigmas verskuif
en verander nie?
Ja – ons dink so – maar die debatte daaroor word net in die hoogste kringe
van die kerkstrukture gevoer, net tussen kerkleiers en die hoë amptenare
daarvan, net op universiteitsvlak tussen professore, weg van die ore van die
publiek, die kerklidmaat wat gladnie daarvan verneem nie; dit word eintlik net
stilletjies bespreek, byna in die geheim, want die paradigmas wat wel verskuif
word, raak gevaarlik vir die bestaan van die Kerk.
Maar plek-plek begin dit tog uitlek sodat dit tyd geword het dat die gewone
lidmaat daarvan verneem, die sogenaamde man op straat – en so vorder ons dan
tot by die eerste tesis wat skrywer hierin aanbied in die volgende hoofstuk.
We are apt to shut our eyes against a painful truth.
For my part, whatever anguish of spirit it may cost,
I am willing to know the whole truth, to know the worst.
Patrick Henry
No comments:
Post a Comment