Thursday 12 April 2012

HOOFSTUK 2


RONDOM DIE KERK. . .


Wat, sê die kerk, het gebeur? Wat is hul weergawe van die "geskiedenis?"  Wat is hul storie?

Dit is die kerk se leerstelling dat God, deur te spreek, alles wat bestaan, in sewe dae geskep het.  Hulle sê dat Hy hierdie wêreld en die mensdom gemaak het weens 'n inherente karaktereienskap van Hom, nl. liefde, wat Hom tot daardie skeppingsdaad gedwing het.  Die aarde, die mens en die totale skepping is Sy handewerk wat Hy min of meer ses duisend jaar gelede in sewe letterlike dae begin en voltooi het.

God het dan ook gesien dat alles wat Hy gemaak het, goed was.

Behalwe met Lucifer.

Lucifer het in die hemel, teen God, in opstand gekom, sê hulle, en hy is toe uitgewerp uit die hemel op die aarde.

Toe die mens tydens die sewe dae van skepping gemaak is, is hulle deur Lucifer verlei, wat toe bekend geraak het as die ou slang of die duiwel. As gevolg daarvan, het die mens ongehoorsaam geword en het 'n toestand van sonde, nie alleen op aarde nie, maar ook in die heelal, ontstaan. 

Sedertdien is die mensdom met die erfsonde belas en is hulle, as gevolg van wat Adam en Eva gedoen het, die ewige dood skuldig.  Alles wat in die lewe 'n probleem is, vind daar in Eden sy oorsprong - moord, dwelms, pornografie, oorlog, inflasie, egbreuk, diefstal, siekte - ja alles wat verkeerd is, het ontstaan as gevolg van die eet van 'n vrug waarmee Lucifer vir Eva, die eerste vrou op aarde, verlei het.  So sê die kerk.

Maar God het gelukkig nog altyd 'n geheime plan gehad, sê hulle verder, naamlik dat Hy Sy Seun, Jesus, na die aarde sou stuur om vir die mens 'n verlossing van daardie sonde- probleem te bewerkstellig.

Om daardie Seun van Hom hier op aarde te kry, sou verg dat God 'n aardse meisie moes gebruik, dat Hy haar met Sy Heilige Saad sou bevrug sodat sy die kind vir nege maande sou dra en op die regte tyd sou baar. God se keuse, sê die kerk vir ons, was 'n Joodse meisie genaamd Maria, 'n meisie wat reeds aan ene Josef die skrynwerker verloof was.  En so kom die God-mens Jesus na die aarde om vir die mens se sonde aan 'n kruis te sterf sodat ons ná hierdie lewe vir ewig in die hemel kan gaan woon.  Daar is ewige saligheid en ewige blydskap sonder al die probleme van die sonde.  Dit is die oplossing van die probleem en beloning vir die mens wat glo in Jesus, die Seun van God, sê die kerk.

Mense wat daardie proses van redding aanneem, wat deel word van die "verloste skare", word as "die kerk" beskryf, of word "die bruid van die Lam" genoem.  Dit is hulle wat hulle soos "wyse maagde" gereed maak vir die wederkoms van Jesus en dit word van hulle gesê dat hulle "maagde" is en die "kerk" word as "maagdelik rein" beskryf - nie omdat almal in die kerk letterlike maagde is nie, maar omdat hulle in 'n "nuwe lewe" begin het en veronderstel is om by die "reinheid" van die volle waarheid te staan.  So kan daardie beelde in verstaanbare taal verklaar word.  Dit is die kerk se weergawe van ontstaan en bestaan. (sien Openbaring 12 en 14).

Eers was die wêreld volmaak, sê hulle.

Toe het ongehoorsaamheid en sonde (die "sondeval") ingetree wat onvolmaaktheid, lyding en die dood voortgebring het.

Daarna het 'n lang proses van heling gevolg, die herstel van die sondige onvolmaaktheid terug na volmaaktheid met behulp van Jesus.

Wanneer dit afgehandel is, kom die ewige vrede in die paradys en die opstanding vir hulle wat "glo".

Die mens wat dít nie glo nie, sê die kerk, sal verlore gaan, want so 'n mens sal nie die "opstanding uit die dood" ervaar nie en sal nie ná die dood vir ewig in die paradys voortleef nie.

Christene sê dat mense van hul sinne beroof moet wees as hulle daardie interpretasie van die geskiedenis nie glo nie.  "Dit is so logies, so eenvoudig, so oulik, so wonderlik", sê hulle.  Kan dit anders?  Hierdie lewe is swaar, sê hulle, en baie slegte dinge gebeur en byna almal ly onder die las van die "sonde", maar hierna - hierna wag daar tog iets goeds vir die mens - die paradys en die ewige lewe in die hemel.

"Glo net", sê hulle.

Dit is die een helfte van die storie.


DIE ANDER HELFTE

Die res van die storie, sê die kerk vir ons, is dat "satan", die "ou slang", die " duiwel", oftewel "Lucifer", die gevalle "bedekkende gerub", en 'n menigte ander engele wat hom in sy rebellie gevolg het, almal tot hierdie aarde ingeperk is totdat hulle op die laaste dag, die dag van oordeel in die hel se vure sal brand.  Vir hulle is daar geen redding of verlossing nie en die dood van Jesus help hulle en hul leier, Lucifer, nie.  Baie mense volg Lucifer en hulle word in die Bybel beskryf as sondaars en onheiliges.
 
Al daardie "afvalliges" trek dan saam en vorm 'n magsblok teen God.  Een beeld wat gebruik word om daardie afvallige magsblok te beskryf is dié van 'n hoer.  In Openbaring 17 word 'n groot hoer en haar baie hoer dogters beskryf.  Die moeder verlei al wat koning en magtige persoon op aarde is en versamel hul mag en geld agter haar in 'n aardse opstand teen God en die waarheid.  So sit hierdie ma met dogters agter 'n bose aardse orde teen al wat goed en heilig is.  So word dit in daardie profesie uiteengesit.  (Volgens Calvyn se Institusie en die ander hervormers se menings).

Net soos hulle wat gered gaan word, nie letterlike maagde is nie, net so is hulle wat nie gered gaan word nie, ook nie letterlik hoere nie - dit is Bybelse beeldspraak wat gebruik word om daardie twee groepe te beskryf:

            - hulle wat nie die reine waarheid nastreef nie is "hoere" (Open. 13 en 17) en

            - hulle wat die reine waarheid nastreef, is "maagde".
            (Matt. 25:1, Open. 12 en 14).

Dit is kortliks die kerk se storie.

Ons weet eintlik reeds dat daar net twee groepe mense op aarde is - goeie mense en slegtes – en dat die slegte mense 'n meerderheid is en dat die goeies deur hulle oorheers word.  Dit is algemeen bekend en word deur talle filosowe en denkers in soortgelyke terme beskryf.


MAAGDE EN HOERE

Die een groep is dus geestelike "maagde" terwyl die ander geestelike "hoere" (afvallig) is.

Wat onderskei hierdie twee groepe van mekaar? 

Kwansuis 'n liefde vir die waarheid.

Hulle wat die waarheid navolg en daarvoor lewe, word "maagde" genoem en sal gered word, maar hulle wat nie die waarheid liefhet nie, word "hoere" en "hoerkinders" genoem en kan nooit "gered" word nie.  Dit is min of meer wat die Bybel en die kerke verkondig, met inagneming van die interpretasieverskille wat daar tussen die onderskeie kerkgenootskappe bestaan.

Dit volg op tekste soos:

"Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie.  Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke geopenbaar
kan word, dat hulle in God gedoen is." (Johannes 3:20 en 21)

"Maar daar kom 'n uur en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid." (Johannes 4:23)

"En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak." (Johannes 8:32)

"Heilig hulle in die waarheid.  U woord is die waarheid." (Johannes 17:17)

"Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen.  Hy was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie.  Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan." (Johannes 8:44)

(Die klem by hierdie teksverse is deur hierdie skrywer aangebring).

Neem ook kennis van die beskrywing in Romeine 1:24 tot 33 van mense wat die waarheid verwerp en hoe dit tot hoereerdery (en eintlik geestelike hoereerdery) lei:

24  Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid,  om hulle liggame onder mekaar te onteer-
25  hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid.  Amen.
26  Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is;
27  en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang.
28  En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan 'n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie:
29  hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid;
30  nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers;
31  onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig,
32  mense wat - al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien - dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.
33  Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword.


NET TWEE GROEPE MENSE

Die kerke vertel ons dus dat daar op aarde net twee groepe mense is:

1)         hulle wat die ewige waarheid glo en wat as "maagdelik rein" beskryf word en so gegroepeer word.  Hierdie groepering gaan, volgens die kerk, hierna die ewige lewe en die hemelse paradys beërwe.  Die kerk sê dit is maklik om te verstaan dat 'n rein God Hom nie met die "hoerery", of te wel, die verval en onreinheid van hierdie lewe ophou nie en dus belang het by die redding van hulle wat rein is soos Hy;

2)         hulle wat nie die "ewige waarheid" aanneem nie, wat as "maagdelik onrein" beskryf word en wat so gegroepeer word, wat oneerlik is en graag leuens wil verkondig, hoereerders en afvalliges wat nie waardig is om gered te word nie en wat na die verderf vaar waar hulle vir ewig sal brand en pyniging as gevolg van hulle sonde sal ly.

Dit is baie kortliks wat die kerk te sê het . . .

Teologies gesproke het die gedagte van "hoereerdery" in die Bybel eerstens en hoofsaaklik  te doen met geestelike afvalligheid, 'n val weg van die reine, Ewige waarheid af. 

Dit het, behalwe waar die konteks dit aandui, nie in die eerste plek te doen met alledaagse, letterlike egbreuk nie, iets waaraan byna elke mens op aarde skuldig is en as dit die maatstaf is, kan niemand meer "gered" word nie aangesien byna almal wat hierdie gedeelte lees, tog seker voor hul huwelik "gevry" het, en in streng Bybelse terme, daarom eintlik skuldig is aan vleeslike oortreding. 

Nee, die Bybel is eerder doenig met die figuurlike oortreding, die geestelike egbreuk van mense wat beweer dat hulle die Skepper in die eerste plek liefhet, maar daagliks besig is om Mammon of enige van etlike ander "afgode" te dien, en ook om die leuen meer lief te hê as die waarheid. 

Dus kan daar maklik saamgestem word - daar is net twee groepe mense op aarde - hulle wat die waarheid liefhet en hulle wat eerder die leuen verkies.


WAARHEID EN MISLEIDING

Die kerk sê dat hulle die enigste waarheid het, nl. die evangelie, die blye nuus, opgesom in die paar paragrawe hierbo. Hul volgelinge is dus "maagde" omdat hulle die waarheid volg.

Volgens die kerk is almal wat nie in die Bybel glo nie, wat aan ander religieë behoort, eintlik dan deel van die groep wat "hoereer", en die kerk waarsku dan teen hierdie ander groepe, hul skrywers en denkers.

Maar daar is ander denkers en skrywers wat meen dat die onderskeid nie so maklik is nie, dat daar 'n heel ander interpretasie is.

Hierdie skrywe sal weer kyk na die kerk se storie en na die indeling van maagde en hoere en sal soek na die ware profete en kyk of daar nie 'n klomp voëlverskrikkers iewers versteek is nie.

Elkeen wat die goeie wil doen, en wat wéét dat hulle die goeie wil doen, sal beslis aansluiting vind by die volgende hoofstukke.


Truth should be hard won.
The truth is only recognized as the truth after all the lies are told
and discounted.  You won’t appreciate the truth or even begin
to fathom it unless you take a tortuous road to find it.
Nelson de Mille

No comments:

Post a Comment