Thursday 12 April 2012

HOOFSTUK 8



ANDER JESUS-SPEKULASIES


WIE WAS JESUS DAN?

Die wêreld se leidende denkers wat reeds kritieke navorsing gedoen het, is oortuig dat daar nooit so 'n persoon was nie.  Dit is die eerste wetenskaplik-geskiedkundige feit waarmee ons te doen het.  Daar is geen dokumentêre bewyse vir die bestaan van hierdie grootste figuur of dat Hy ooit die aarde betree het nie.

U sal uit hoofstuk 5 onthou hoedat ons wel die bestaan van 'n geskiedkundige figuur kan bewys, maar nie een van daardie metodes help ons wanneer hulle gebruik word om die Jesus-figuur na te vors nie.  Dus is dit so dat ons grootste denkers en miljoene Westerlinge tot die gevolgtrekking gekom het dat daar nooit 'n Jesus, die Christus, die seun van die Skepper was nie.

Maar aangesien daar so 'n sterk oorlewering is, en ons reeds twee duisend jaar lank glo dat daar wel so ‘n persoon was, is daar mindere denkers wat wil toelaat dat daar wel iemand was wat dié naam gedra het en die een of ander belangrike rol in ou Israel gespeel het.  Daar is redelik baie spekulasie daar rondom, maar daar is nie ruimte in hierdie werk om dit uiteen te sit nie.  Tientalle boeke oor die geheimsinnige karakter sien nou die lig, onder andere Thiering se Jesus the Man en Jesus of the Apocalypse,  The Book Jesus Wrote,  The Gospel of Jesus,  The Dead Sea Scrolls Deception,  The Bible Fraud,  Holy Blood and the Holy Grail en nog ander wat hierdie skrywer nog nie eers gesien het nie.  Ons sal dus baie kortliks na daardie spekulasie kyk.

Die spekulatiewe gedagte is dat daar wel 'n Maria was wat, terwyl sy nog aan ‘n sekere Josef verloof was (Matt.1:18), swanger geraak het.  Dit was hul eersteling, 'n seun wat niks meer was nie as die letterlike kind van twee mense wat destyds in Palestina geleef het.  Hy was dus 'n doodgewone mensekind.  Dit word beweer dat Josef (en skynbaar Maria ook) ‘n afstammeling van die Joodse koningshuis was.  Dawid was glo een van hul voorsate (sien die stamboom in Matt. 1).  Aangesien daardie eerste kind voor die huwelik ontvang is, was hy ( Jesus, of Yashua) nie geregtig om die Joodse troon te bestyg nie, sou die Joodse koningshuis herstel kon word.  Bushby beweer ook dat Thomas Jesus se tweelingbroer was en dat die Katolieke Kerk daardie feit 2000 jaar lank probeer uitwis het.   In daardie tyd was Herodus koning van die Jode, maar was self nie 'n Jood nie, maar 'n Edomiet (bastergroep wat Suid-Oos van Palestina gewoon het, kwansuis afstammelinge van Esau).  Jesus se kleinboetie, Jakobus, is eersgeborene ná sy ouers se huwelik en word dus die wettige troonopvolger.  Jesus het tussen vyf en sewe broers gehad en ook 'n paar susters.  Maria was glo ook meer as een keer getroud.  Hieruit, beweer sommige van daardie skrywers, ontstaan die misverstande tussen die Paulus- en Petrusgroepe van die eerste eeu, wat later die Westerse en Oosterse gemeentes (kerke) word, nl. Rome en Jerusalem, as ons die Nuwe Testamentiese en Apokriewe verhale wil glo.

Oor honderde jare heen was daar reeds in Palestina 'n vryheidstryd aan die gang waardeur die Jode gepoog het om van die Herodiane en Romeine ontslae te raak.  Hulle het toe 'n "verlosser" verwag wat hulle in hul aardse of politieke stryd sou lei.  Ons moet daarop let dat die Jode se "messias" of "verlosser" niks met die hiernamaals te doen gehad het nie, maar met die politieke bevryding van hul grondgebied op aarde.  Dit is ‘n ope vraag of ‘n persoon met die naam, Yashua (Jesus), daarmee deurmekaar geraak het.  Die gesaghebbende werk van Josefus beskryf nie so iemand nie - en dit is ‘n belangrike feit.  Het daardie Yashua gesê: "Gaan koop 'n swaard?" (Lukas 22:36).  Volgens die verhaal, ry hy later op 'n esel se rug om as koning van die Jode gekroon te word, maar word gevange geneem en is as "Koning van die Jode" gekruisig.  Let daarop dat ‘n kruisdood, volgens geskiedkundiges, net vir politieke misdadigers voorbehou was.  Ons is altyd vertel dat hy 'n teologiese of godsdienstige dood gesterf het, maar, as daar so iemand was en as die verhaal enigsins in die waarheid gegrond is, het hy 'n politieke dood gesterf wat niks met die hiernamaals te doen gehad het nie.  Met ander woorde, hy het hoegenaamd nie 'n dood as ‘n "verlosser" gesterf nie.

Daardie sogenaamde Yashua se politieke opstand saam met die ander Selote ('n Joodse politieke party in die eerste eeu wat militant teen Romeinse oorheersing gekant was) het gefaal en Jesus is gearresteer en vir verhoor aangehou.  Is dit die rede vir die verwarring tydens die verhore.  Wou die Joodse geestelikes Hom dood hê vir die een of ander godsdienstige oortreding?  Moes hulle die Romeine gebruik om hom dood te maak?  Het hulle Sy aanspraak op koningskap as skuiwer teen hom gebruik?  Was Pilatus onder die indruk dat Jesus nie eintlik probeer het om koning van die Jode te word in die plek van Herodus of die Romeine nie, maar dat hy in 'n godsdienstige stryd met die Joodse geestelikes gewikkel was?  So het dit kwansuis gekom dat die doodsvonnis daardie dag nie van die Romeinse ryk uitgegaan het nie, maar van die Joodse priestery en daarom kon Pilatus sy hande in onskuld was.  Dit is vreemd, indien so iemand geleef het wat sulke dinge in Israel gedoen het, dat niks daarvan in die geskiedenis opgeteken is nie. Wie sal in Paul Kruger glo as daar niks van hom in die geskiedenis opgeteken is nie?

Verdere spekulasie rondom daardie Yashua se dood is dat hy aan die kruis flou geword het a.g.v. die "mirre en asyn aan die riet" wat vir hom gegee is.  Sommige geleerdes beweer dat dit 'n goeie middel was om floute te veroorsaak.  Dit is dan ook vreemd dat "hy" so vinnig van die kruis afgehaal is, dieselfde dag nog, terwyl ander politieke misdadigers 'n week en langer as waarskuwing in die openbaar sou bly hang het.  Dan word dit verder gespekuleer dat "hy" daardie nag in die grafkelder bygebring is nadat die "dissipels" hom 'n teëmiddel ingegee het.  Toe "hy" aan sy vriende verskyn het, wat selfs aan "hom" geraak het en die wonde in "sy" hande gevoel het, het hulle saam geëet, maar hulle het besluit om "hom" nie verder te volg nie aangesien "hy" gefaal het in "sy" poging om koning te word en Israel van Romeinse oorheersing te bevry.

Moedeloos oor die verlore stryd het Jesus kwansuis met Maria Magdalena getrou en op 'n skip na Spanje gevaar waar hulle kinders gehad en gewoon het tot hulle as ou mense glo in Frankryk  gesterf het.  Ander navorsers beweer dat Jesus na Indië of Egipte gevlug het.  Daar word ook beweer dat daar grafkelders vir Jesus in Frankryk en Indië is.  Heers daardie verwarring moontlik omdat daar in daardie vervloeë dae dalk meer as een man met dieselfde naam was...?

Dit is deeltjies van die spekulasie en daar is 'n geskarrel om sulke teorieë te bewys.

Dan word daar verder deur die huidige regeerders van die wêreld bespiegel en voorgegee dat Jesus die eerste van die Europese konings was en dat al daardie koningshuise tot vandag toe sy direkte afstammelinge is.  So is koningin Elizabeth van Engeland glo in daardie geslagslyn.  Glo dit as u wil - ons glo dit glad nie.  Maar dit is 'n heel ander intrige. 

Boeke daaroor word net om een rede uitgegee, nl. om ons almal aan daardie koningshuise gedienstig te maak aangesien dit dan die geslagslyn van ons "liewe Jesus" is.  Maar as Jesus, of te wel, Yashua, nie die direkte saadlyn van die Skepper was nie, en ons het reeds die versekering daaroor, stel ons ook nie in sy geslagslyn belang nie, want dan was hy net ‘n blote mens.  Al wat uit so ‘n storie na vore kom, is gevaartekens, want dan kan dit wees dat ons Europese koningshuise deur die Jode oorgeneem is en dit sal 'n ander stryd baar.  Dan sal dit ook interessant wees as so ‘n eis gemaak word, want dan is al die Europese oorloë die Jode se skuld!

Een van die voorste bewegings wat sulke idees verkondig is die British Israelite-beweging, seker die oorspronklike Israel-visie groep.  Hulle verkondig lankal dat die Engelse konings die afstammelinge van Jakob is, want dan kan hulle kwansuis deel in die belofte wat aan Abraham gemaak is, maar as daar nooit 'n Abraham in die gees van die Bybel was nie, gaan daardie bespiegelinge ons beslis ook nie aan nie.  (U sal die TIME-artikel onthou waarin die voorste deskundiges dit stel dat Noag, Abraham en Moses bloot mitologiese figure was - 18 Des. 1995).

Bushby het weer ander gedagtes oor Jesus wat hy voorlê.  Sy navorsing blyk baie goed en deeglik te wees (sien sy bronnelys).  Hy gee te kenne dat die kerk wel weet van Jesus se bestaan as gewone mens, die gewone kind van Maria, en hy beweer dat Jesus ‘n tweeling broer gehad het en dat Maria en ‘n Romeinse soldaat, nl. Pantera, ‘n verhouding gehad het en dat Jesus uit daardie verhounding gebore is, dat Jesus getrou het, kinders gehad het, politieke koning geword het, oorloë gestry het, ens.  Dat die kerk dit alles weet en die "waarheid" rondom daardie feite oor twee millennia reeds verswyg, kom baie duidelik in sy werk na vore.   Studente moet maar Bushby se 220 bladsye self lees - daar is nie plek daarvoor in hierdie werk nie. 

Die leser kan gerus onthou hoedat Calvyn in sy Institusie ook die bedrog wat die Roomse kerk gepleeg het, blootlê.  Die kerk het die mensdom oor lang tye bedrieg - en die storie van Jesus is ook net dit, bedrog.

Bushby se navorsing toon ook duidelik dat Jesus nie gebore is uit die saad en gene van die Skepper wat die heelal tot stand gebring het nie.  Jesus, as u wil glo dat so ‘n mens geleef het, was net ‘n mens soos u en ek.

Die bespiegelinge in die voorafgaande paragrawe is natuurlik van geen waarde nie en die skrywer stel nie in die minste belang in die bestaan of die nie-bestaan van die een of ander karakter wat dalk 2000 of 3000 jaar gelede in Israel gewoon het nie.  As Jesus nie "kind van God", oftewel, kind van die Skepper in 'n direkte genetiese saadlyn is nie, dan is hy van geen belang vir ons nie, of van net soveel belang as Bar Kochba of Genghis Khan.  In daardie geval is daardie verhaal vir ons geestelike lewe totaal waardeloos, net soos met die verhaal van Jan en die boontjierank.  Dan is ons lank genoeg aan die neus rondgelei deur hierdie Asiatiese mitologiese vertellings wat ons nou al vir meer as twee duisend jaar so duur te staan gekom het.

Hierdie skrywer staan vas by hierdie filosofies uitgangspunt - as Jesus nie die direkte saadlyn en genemateriaal van die Skepper is nie, dan is hy niks.  Dan is hy maar net dieselfde as enige ander mens wat nie God is nie en wat nie die wêreld "gered" het nie.  As dit so is, stel ons nie in die minste belang om te weet wie hy was of wat hy gedoen het nie.  Dan het óns genoeg "groot mense", helde en leidende denkers, na wie ons ons kán wend vir geestelike leiding in hierdie lewe, want dan het die hele storie van die hiernamaals ook ernstig onder verdenking gekom.

Op sy beste is die Jesus-verhaal bloot net dit – 'n verhaal.  Want Josefus, die gesaghebbende Joodse geskiedskrywer teken niks van hom op nie en al die Dooie See Boekrolle, die Nag Hammadi-rolle en al die ander ou dokumente uit daardie tydperk, bevat nie ‘n enkele brokkie  inligting oor so 'n God-mens nie.

Daar is niks.

Die geskiedenis swyg soos die graf.

Die leser moet hierby in gedagte hou dat ons vertel is dat Jesus die belangrikste persoon is wat ooit op aarde was, dat daar sedert die begin van tyd tot op hede, niemand van die statuur – Seun van God – hier was nie, maar daar is geen enkele verwysing in enige boek of op enige kleitablet na daardie Jesus nie, daardie belangrikste mens wat ooit die stowwerige voetpaaie van Palestina bewandel het.

Hy, die Christus, het nie bestaan nie, maar as hy, die onegte kind van Josef en Maria, wel bestaan het, was hy van sulke geringe belang dat hy geen ruimte in die geskiedskrywers se weergawe van hul tyd gewerf het nie, dan was hy ook maar soos miljoene ander wat graf toe is sonder dat die geskiedenis van hulle kennis geneem het.

As dít waar is, dan kan ons maar die boek oor hom toemaak.  Dan is die spookasem rondom die waarheid weggeskiet.  Dan betree ons die weg van die waarheid wat ons sal vry maak.


HOE HET DIE ALGEMENE KERK DAN TOT STAND GEKOM?

Christene sal vir my vra hoe dit moontlik was dat die Christelike kerk ooit kon ontstaan het indien daar nie 'n Jesus was wat dit begin het nie.  Dit bestaan immers reeds 2000 jaar.  Hoe kon 'n beweging so lank bestaan sonder die oorspronklike leidende figuur, nl. Jesus?  Hulle sal beweer dat dit onmoontlik is, dat die feit dat daar 'n Christelike kerk of geloof is, juis bewys dat sy stigter en leier bestaan het.

Maar dit is nie so nie. 

Die bestaan van die Christelike kerk is NIE 'n bewys van die bestaan van daardie skimagtige Jesus nie.

In antieke tye was daar verskillende religieë – almal het 'n "verlosser" of "god" vereer – tog het nie een van daardie "verlossers" of "gode" in werklikheid bestaan nie, maar mense het in hul miljoene daardie gode gedien en daardie stelsels onderhou.

Ra, die songod van Egipte, is oor sowat twee duisend jaar vereer, tog het hy nie in die werklikheid bestaan nie.  Ten spyte daarvan het 'n volledige godsdiensstelsel om hom heen ontstaan, met tempels, priesters, sakramente, inisiasies en alles.  Die hele Egipitse volk het hom vereer. Vir hulle was hy ‘n werklikheid – tog was hy net 'n mitologiese figuur, deur mense uit die duim gesuig.

Diana, vir die Romeine die godin van die Jag (Engels: hunt) en van die Maan, dogter van die gode Jupiter en Latona, tweelingsuster van Apollo, is oor meer as 'n duisend jaar vereer, met tempels by Efese en Taurus en priesters en priesteresse wat haar gedien het, tog het sy ook nie in die werklikheid bestaan nie en was sy bloot 'n mitologiese figuur.  Haar bestaan was vir haar aanhangers 'n werklikheid en het hulle ‘n religie vir haar opgerig.

Dionysos was die Griekse god van wyn en vrugbaarheid, en is vereer met seksuele losbandigheid.  Daar is vir hom ook 'n totale religieuse stelsel opgerig en die hele Griekse ryk het in sy bestaan geglo en het hom gedien. Alhoewel hy net 'n mitologiese figuur was, was die religie wat hom vereer het, vir sy aanhangers 'n werklikheid.

In Afrika word geglo dat die tokkelossie bestaan.  Miljoene glo dit, tog is daar nie so iets nie, maar dit verhoed nie dat hy deel van ‘n religieuse beskouing uitmaak nie.

Die lys van gode en godinne uit antieke tye wat in The Consolidated Webster Encyclopedic Dictionary, 1947, opgeteken is, beslaan 14 bladsye en bevat sowat 350 name sonder die name van Egiptiese, Persiese en Sumeriese gode.  Die Ensiklopedie van die Mitologie beslaan 277 bladsye met kort definisies beskrywend van antieke gode.  Nie een was ‘n werklike, ware god nie, tog het heel ryke oor honderde jare daardie gode vereer, stelsels met tempels en priesters onderhou, daarvoor betaal, die tempels besoek en die beginsels van daardie opgemaakte stelsels uitgeleef en aan hulle kinders oorgedra.

Net soos die Jehova se Getuies, die Sewendedag-Adventiste, die Mormone en die Scientology, en al die ander kerkgroepe van ons tyd deur een of ander mens begin is, so is die oorspronklike Christelike geloof ook deur iemand begin.  Al hierdie hedendaagse bewegings het ‘n stigter gehad: Russell, White, Smith, Hubbard.  Iemand, miskien Paulus, het die Christendom begin, maar dit word betwyfel aangesien daar ook geen geskiedkundige rekord van hom bestaan nie.  Wat nie te betwyfel is nie, is die feit dat mense die Christelike interpretasie van stapel gestuur het.  Mense sien 'n gaping in die mark, of skep ‘n gaping, en dan neem hulle dit.

Die mensdom glo aan gode, aan hemelse en onderaardse karakters en figure - al is daar nie sulke wesens nie.

Net so is Jesus bloot 'n mitologiese figuur, maar vir die aanhangers van daardie religie, was en is hy 'n werklikheid.

Die antieke godsdienste van ou Persië, Babilon, Griekeland, Egipte en  Rome het bloot weer in die religie van Jesus herleef.  Daardie antieke godsdienste is doelbewus weer in die lewe geroep omdat dit so goed werk om van u en my slawe te maak, beheerbaar onder die wêreldheersers wat sonder twyfel in beheer is van die huidige chaos in die wêreld.  Dit is oorlog op oorlog, gedurige onstabiliteit, geen rus en vrede nie, geen veiligheid nie, geen sekuriteit nie – waarom?  Omdat hulle dit so wil hê, om daaruit ryk te word en baas te speel oor almal.  Dit is gerieflik - vir hulle.

Die feit dat miljoene mense in Jesus glo, bewys nie sy bestaan nie.  Indien groot getalle aanhangers die maatstaf sou wees, sal dit die bestaan van elke ander afgod ook bewys.

Jammer - maar dis nie korrek nie.


BOEKE WAT POOG OM JESUS TE "BEWYS"

‘n Interessante oefening vir elke student is om Ian Wilson se Jesus, the Evidence te lees en te sien hoe hy as Katolieke gelowige en opgeleide historikus, met al die bronne vanuit Katolisisme en die Vatikaanbiblioteek, nie die bewyse vir die bestaan van Jesus kon lewer nie en aan die einde van sy boek terugval op "geloof".  Hy "glo" daar was so iemand en dit is vir hom genoeg:

Hierdie onaanvaarbare, en eintlik, belaglike slotsom word vir u gerief vry vertaal:

Met elke skeptiese bevoegdheid lewend en werkend, glo ek wel dat daar sowat twee duisend jaar gelede in die land wat ons vandag Israel noem, die ‘woord’, ‘n essensiële iets van daardie ondefinieerbare iets wat mense God noem, vlees geword het en gewoon het in ‘n Galilese Jood genaamd Jesus.  Hoe dit presies gebeur het, weet God alleen.  Maar vir ‘n kort oomblik in die geskiedenis was daar iets toweragtig in die lug...   (Wilson, bl. 156).  (B)

Dwarsdeur sy boek wat die bestaan van Jesus moes bewys, bespreek hy die lewe van Jesus en die probleme wat rondom Hom opduik, soortgelyk aan dit wat in die vroeëre hoofstuk oor Jesus hierin gedoen word, maar geen enkele bewys het na vore getree nie.  As die bewys vir sy bestaan nie in die eerste plek, dadelik by die begin, gelewer kon word nie, is die bespreking van sy lewe deur die boek heen, absoluut sinneloos.  Sy bestaan moet eerste bewys word - dit was tog sy doel met die boek.  Daarna kon hy bespreek wat hy wou.  Maar dit is nie gedoen nie en die boek is dus waardeloos as dit moet dien as The Evidence, die bewyse.


GEEN BEWYSE NIE

Die gebrek aan historiese en wetenskaplike feite soos gebruik word om enige historiese figuur se bestaan mee te bewys, gee aanleiding tot ‘n swetterjoel spekulasies, almal van geen waarde nie, want as Jesus nie die direkte saadlyn van die Skepper was nie, Sy genetiese kind was nie, dan was hy bloot net nog ‘n Jood wat niks met u en my sieleheil te make het nie.  Al waarvoor ons in daardie geval moet oppas, is dat ons nie om die bos gelei word met Joodse kinders van Jesus wat dalk vandag nog iewers ‘n troon oor ons soek nie.

Hou op om tyd te mors met sulke mites.  Bestudeer die werklike, die bewysbare, die bestaande, naamlik die Natuurorde, want dit is die bedoeling van die Skepper.  Die Natuur is so omdat dit deur die Skepper so gewil is.  Leer daaruit - dit is al wat ons het.


POUSLIKE UITSPRAAK

Pous Leo X (1513-1521) het die volgende kwytgeraak:

How well we know what a profitable superstition this fable of Christ has been for us.
            (Aangehaal uit Bushby)

Daarin vind u die hele raison d’etre vir die Christelike kerk. 


It is books that are a key to the wide world; if you can’t do anything else, read all that you can.
(Jane Hamilton, Reader’s Digest, Julie 1999, bl. 34).

No comments:

Post a Comment