Thursday 12 April 2012

HOOFSTUK 9



WIE IS DIE ANTICHRIS?


NIEMAND WIL DIT GLO NIE

Daar is 'n stelling, met sy oorsprong in die Bybel, gelyktydig die moeilikste, maar ook die maklikste om te verstaan.

"Die kerk is die setel van die antichris".

"Die kerk is die antichris".

Mense sal sê dat dit nie in die Bybel geskryf staan nie, tog is dit daar, duidelik in al die vertalings, selfs in die Grieks.  Dit staan in 2 Thessalonisense 2:3 en 4, maar dit word natuurlik deur die kerke en teoloë geheel en al geïgnoreer.  Verder word ál die gedeeltes oor die valse en slegte herders (predikante) ook oor die hoof gesien (sien bylaag 1 vir daardie skrifgedeeltes).

Hierdie skrywer het nie die Bybel nodig om hierdie standpunte te verdedig nie, maar vir hulle wat nou die eerste treë in geestelike groei neem, word wel daarna verwys om hulle te help.

Die "kerk" het nooit 'n rol as verspreider van die waarheid opgeneem nie en het van die begin af verkies om 'n leuen te verkondig, 'n leuen waarvan die afmetings so uitermate groot is dat die Bybel dit vergelyk met die doen en late van 'n "groot hoer en haar baie dogters".  Kyk:

Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit, met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery... en op haar voorhoof was 'n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde . . .
(Openbaring 17:1, 2 en 5, 1933 vertaling.  Klem hierby aangebring).

In die Bybel stel 'n rein vrou die kerk van Jesus voor, soos in Openbaring 12.  Net so word die beeld van 'n hoer gebruik om die koninkryk van duisternis voor te stel, die plek van leuens, valsheid, bedrog en die dood.  Hierdie hoer het baie dogters.  Daar word van die Rooms-Katolieke Kerk gepraat as die "moeder".  Al die Proterstantse kerke het uit die Roomse moederkerk ontstaan.  Hulle is dus die dogterkerke.  Dit is die simboliek wat hier ingespan word.

Dus, die kerk is die setel van die antichris.  Die kerk is die antichris.  Hierdie stelling omskryf die derde tesis wat in hierdie skrywe behandel word.

Die teksgedeelte hierbo praat eerstens van die Rooms-Katolieke Kerk en dan van die religieuse stelsel wat dit daar gestel het (die moeder-hoer) en dan tweedens van die Protestantisme wat deur "dogters" (van die "moeder" van die hoere) versinnebeeld word.

Hoe kan dit wees?  Was dit nog altyd so?  Op grond waarvan kan so iets gesê word?


CALVYN HET DAARDIE IDENTIFIKASIE GEDOEN

Die Kerkhervormers, Luther, Calvyn en ander, was eenstemmig dat daardie "hoer" (soos in Open. 17 beskryf word) die pous en die Rooms-Katolieke Kerk versinnebeeld het:

Daniël and Paul foretold that Antichrist would sit in the temple of God (Dan. ix.27 ; 2 Thess. ii. 4); we regard the Roman Pontiff as the leader and standard bearer of that wicked and abominable kingdom.  By placing his seat in the temple of God, it is intimated that his kingdom would not be such as to destroy the name either of Christ or of His Church.  Hence, then, it is obvious that we do not at all deny that churches remain under his tyranny; churches, however, which by sacrilegious impiety he has profaned, by cruel domination has oppressed, by evil and deadly doctrines like poisoned potions has corrupted and almost slain; churches where Christ lies half-buried, the gospel is suppressed, piety is put to flight, and the worship of God almost abolished; where, in short, all things are in such disorder as to present the appearance of Babylon rather than the holy city of God.
(Calvyn: Institutes of the Christian Religion, book 4, p. 313/4)
Vry vertaal (klem deur hierdie skrywer voorsien):
Daniël en Paulus het voorspel dat die Antichris in die tempel van God sou sit.  (Dan.9:27 en 2 Thess. 2:3-4); ons beskou die Roomse pous as die leier en vaandeldraer van daardie onheilige en afgryslike koninkryk.  Deur sy sitplek in die tempel van God te plaas, gee hy voor dat hy nie die naam van Christus of Sy Kerk wil vernietig nie.  Daarom kan ons nie wegkom daarvan dat kerke steeds onder sy heerskappy is nie, kerke wat buitendien as gevolg van sy godslastering ontheilig is, deur sy wrede tirannie onderdruk is, kerke wat deur sy bose en dodelike leerstellings vergiftig is en feitlik gedood is, kerke waar Christus half begrawe lê, die evangelie byna versmoor is, vroomheid weggevlug het, en die aanbidding van God byna afgeskaf is, waar dinge, kortliks, so deurmekaar is dat dit meer na Babilon as die Stad van God lyk.

Hierdie aantyging word keer op keer deur Calvyn herhaal (sien ook bv. bl. 383/4).  Hy wy meer as vier honderd bladsye van sy Institusie in een boekdeel, nl. "Vergelyking tussen die Valse Kerk en die Ware" aan die bewyse daarvoor en aan die probleme rondom die Katolisisme.

Die Hervormers was dit eens dat hul siening daaroor in die kern daarvan reg was.

Weereens, die opregte student het nie die Bybel nodig om te weet dat daar groot fout is met 'n stelsel soos die Katolieke stelsel nie.  Met 'n fyn geoefende sin vir waarheid, kan 'n mens dit beslis sonder die Bybel bespeur.

Die Nuwe Afrikaanse (1983) vertaling van die Bybel se Woordelys (agterin) bevat ook 'n interessante definisie waarna ons moet kyk:

Babilon - Babilon was die naam van die hoofstad van die Babiloniese Ryk en word soms ook Babel genoem (Gen. 11:9).  In 587v.C. het die Babiloniërs Jerusalem verwoes en die volk in ballingskap weggevoer (vgl. Matt. 1:11).  Daarom word Babilon die simbool van die onderdrukker van die volk van God.  Later word die naam oorgedra op Rome (1 Pet. 5:13) omdat die keisers eers die Jode en daarna die Christene vervolg en verdruk het.  Die Romeinse Ryk met sy hoofstad, Rome, word 'n beeld van die anti-Christelike wêreldmag wat in die *eindtyd die gelowiges en die kerk sal probeer uitwis  (Op. 14:8, 16:19, 17:5, 18:2, 10, 21, 24).
(Deur hierdie skrywer onderstreep).

Graag wil ek ter verduideliking die volgende hier byvoeg.  Die antichris is nie soveel 'n mag of iemand wat 'n oorlog teen die Skepper voer nie, maar eerder een wat homself in die plek van die Skepper wil plaas.  Met dit in gedagte word 'n sinsnede uit Calvyn hierbo herhaal en 'n paar eie woorde daartoe by voeg.  Kyk hoe lees daardie gedagte dan:

Deur sy sitplek in die tempel van God te plaas, gee hy voor dat hy nie die naam van Christus of Sy Kerk wil vernietig nie, maar daardeur vervang hy die gesag en posisie van die Skepper met sy eie.

'n Ander definisie in die 1983 vertaling se Woordelys werp goeie lig daarop:

            Antichris - beteken "teen Christus" en dui die teenstander en nabootser van Christus aan... (eie klem).

Waarvan is die "antichris" 'n "nabootser?"

Daardie beskuldiging mag aangeteken word aangesien die Rooms-Katolieke Kerk voorgee dat alleen hulle die mens tot 'n gesonde verhouding met die Skepper kan lei en die mensdom daartoe kan help, dat hulle alleen die mag het om sonde te kan vergewe en dat hulle die alleenreg besit om die "sakramente" te bedien.  Die kerkhervormers het die Roomse kerklike stelsel van "hoerery" beskuldig omdat dit die magte en posisie van die Skepper wederregtelik vir hulself in besit geneem het en Sy heerlikheid naboots deurdat hulle "in die tempel van God as God gaan sit het en voorgee dat hulle God is".

Die hoëlui van al die "kerke" ken die geskiedkundige feite waarop die Christelike kerk gebou is, maar hou dit geheim.  Hulle verdoesel die waarheid onder twee duisend jaar se opgestapelde geskrifte, notules van konsilies en vergaderings en hoop dat niemand daarin sal belangstel nie en nooit daaroor navraag sal doen nie.

In hierdie laat dae het die tyd het aangebreek vir die openbaring van daardie bedrog en leuens en die ter-skrifstelling van sekere feite en vrae sodat hulle duidelik deur ons mense begryp kan word en daar dan aan ondubbelsinnige antwoorde gewerk kan word.


LEUENS IN DIE PLEK VAN WAARHEID

Alom word geglo dat die organisasie wat as die kerk bekend staan, die waarheid voorhou en nooit enige leuens sal verkondig nie, veral nie doelbewus nie.  Die kerk is tog die tuiste van die waarheid, so word geglo, dit is tog die teëstander van die leuen en van die vader daarvan, nl. Lucifer of satan, nie waar nie?  So is ons van kleintyd geleer en eintlik gebreinspoel.

Maar die betrokke teksvers sê dat die kerk die setel van die antichris is en ons weet dat die antichris per definisie die voorstander van leuens en bedrog is.  Die antichris het die kerk, wat beskou word as die setel van die waarheid, sy setel gemaak, want niemand sal daaraan dink dat hy vanuit die kerk opereer nie.  Dit is die genialiteit daarvan – doen jou voor as die enigste voorstander en verspreider van die waarheid, maar versamel intussen mag óm jou sodat jy jou eie weergawe daarvan kan verkondig.  Briljant!

Hulle noem dit "misleiding".

Hierdie ongerymdheid sal puntsgewys bespreek word, nl. dat daar week na week vanaf die kansels vir 'n sekere saak, nl. die sogenaamde waarheid, standpunt ingeneem word terwyl die sentrale tema daarvan eintlik 'n leuen is.


DIE GROOTSTE LEUEN

Wat is daardie groot leuen wat deur die kerk verkondig word sodat die bedrywighede daarvan vergelyk kan word met die doen en late van 'n "groot hoer?"

Die antwoord daarop is die eerste tesis van hierdie studie, wat deeglik hierin uiteengesit en bewys word en is die grootste leuen van alle leuens en van alle tye, naamlik:

dat die Hoogste Skepper, die Ongekende en Onbeskryflike, die Al-Vader, wat hemel en aarde gemaak het en verantwoordelik is vir die totaliteit daarvan, 'n kind by 'n aardse meisie, wat reeds aan 'n ander man verloof was, verwek het.

Dit is die grootste leuen van alle tye en is die eerste tesis van hierdie boek.  Daardie leuen word verkondig vanaf die platform van "Die Waarheid".

Waarom word daardie leuen verkondig?  Dit gaan hoofsaaklik om twee dinge:

            - 'n inkomste vir die kerklikes en
            - mag oor mense, wat op die ou end moet lei na wêreldwye mag.

Die hele stelsel baar vir die predikantekorps natuurlik 'n gemaklike lewe en 'n status wat veral in Suid-Afrika byna nie oortref kan word nie en die status het weer op sy beurt die kerk 'n sterk houvas oor die volk gebied.

Onthou net watter magtige houvas prof. Johan Heyns deur middel van sy posisie as moderator van die N.G. Kerk oor Afrikaners gehad het.  Sy woord en invloed het die geskiedenis van 'n hele wêreldstreek verander toe hy, vanuit sy leidende posisie, die N.G.Kerk gelei het om sy deure vir alle rasse oop te gooi en apartheid as "on-Bybels" te brandmerk.

Daardie einste kerk het immers "apartheid" voorgestaan en toe só drasties van mening verander dat hulle daardie filosofie nou as "sondig" beskou.  Dit is hoofsaaklik onder Heyns se leiding dat daardie leerstuk verander is – wat inderdaad 'n reuse invloed op Suid-Afrikaners se denke uitgeoefen het.  In die nabye toekoms gaan dit nog gesien word hoe 'n belangrike politieke gebeurtenis dit in die Weste was en hoe dit tot die ernstige nadeel van ons, die Westerling, sal strek.

Daardie eerste tesis, (saam met die tweede en derde), sal sekerlik deur die "kerke" as die grootste kettery nog ooit op Afrikaanse bodem beskou word, tog is daardie tesisse baie duidelik in Afrikaans beredeneer.  Dit is vele male reeds in Engels, Duits en in ander tale gedoen en is vir meer as twee honderd jaar reeds die onderwerp van talle teologiese debatte in Europa.

Hierdie skrywer het op 'n eie en oorspronklike wyse tot hierdie gevolgtrekkings gekom, maar die gevolgtrekkings self is nie oorspronklik nie.  Dit is lankal reeds deur die voorste denkers in Europa en elders ingesien en dekades gelede al op skrif gestel, maar weens ons afgeleë posisie aan die suidpunt van Afrika en ons onwrikbare vertroue op die "kerk" en ons leraars, het die algemene Afrikaanssprekende persoon nie daarvan verneem nie, want daardie inligting is van ons weerhou.


REGBANK EN JURIE

Soos by 'n hofsitting, word die leser gekonfronteer met veelvuldige bewyse en getuienis wat alles vryelik beskikbaar is en nie moeilik is nie.  Dit word hier in eenvoudige taal uiteengesit.

Hierdie skrywe is dus in die hof van die Ewigeheid.  Dit is die getuienis van tienduisende Westerlinge en u, geagte leser, is die jurie.

Maar u sal nie 'n uitspraak kan lewer of enigsins tot 'n gevolgtrekking mag kom indien u hierdie skrywe nie self tot op die laaste bladsy gelees het nie.

Of ook u moet oneerlik wees . . .

As u dit nie gedoen het nie, swyg dan.
  

Akademici is meestal NIE leiers nie.  Op die beste gee hulle klas.
Hulle verduidelik dit wat reeds bestaan.
Dit gebeur selde dat hulle ons mense na nuwe wêrelde lei
Anon.

No comments:

Post a Comment